Nuus & Weer Aangebied weeksdae om 9H30 (CAT)
13 Augustus 2018 aangebied deur Corrie
klik HIER om weer te luister
https://archive.org/details/NuusEnWeer9h3020180813.093041
Kennisgewing
- Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
- Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berig skrywer.
- Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda
Die Nuus word aangebied in samewerking tussen Netradiosa & FM stereo & FM Gospel active
NUUS
Die Gautengse polisie is op soek na ‘n onbekende man wat vroeg gister oggend twee mans in ‘n restaurant in Midrand, noord van Johannesburg, doodgeskiet het. Die verdagte het in ‘n onderonsie met die slagoffers betrokke geraak toe hy ‘n vuurwapen uithaal en op hulle skiet. ‘n Woordvoerder van die Gautengse polisie, Kay Makhubele, sê die verdagte het in ‘n wit BMW van die toneel gevlug. Enigiemand met inligting word versoek om hul naaste polisiekantoor te skakel.
Die Transvaalse Landbou-unie het ‘n beroep gedoen op boere wie se plase vir onteiening geteiken word om te weier om hul grond te verlaat. ‘n Besluit is onlangs by die ANC se lekgotla geneem om plase sonder vergoeding te onteien ooreenkomstig ‘n oproep om Artikel 25 van die Grondwet aan te pas om dit toe te laat. Daar is ook tydens die vergadering aangedui dat die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming 139 plase landwyd as toetssake geïdentifiseer het. Die noordelike streek van die TLU sê hulle gaan ‘n dispuut met die regering verklaar oor die onteiening van enige grond in Limpopo, asook oor die wetlikheid van ‘n aanpassing in die grondwet om, wat hulle noem, diefstal te regverdig. Die unie se voorsitter, Henk van de Graaf, het ‘n beroep op boere gedoen om die dispuut te ondersteun.
Die Departement van Water en Sanitasie sal weer vandeesmaand met verskeie verbruikers van die Wes-Kaapse watervoorsieningstelsel vergader om die verslapping van waterbeperkings te bespreek. Die partye het verlede maand vergader en ooreengekom dat waterbeperkings nog nie verslap kan word nie. Die gemiddelde damvlakke in die provinsie is tans 51 persent, wat ‘n groot verbetering is op die situasie ‘n paar maande gelede, maar die departement wil damme meer kans gee om te herstel na die droogte. ‘n Woordvoerder van die Departement, Sputnik Ratau.
Drie mense is in hegtenis geneem in verband met brandstigting ná gewelddadige betogings in Houtbaai. Die burgemeesterskomiteelid van die Kaapstad-metro, JP Smith, sê ‘n privaat woning en pakhuis naby die hawe is aan die brand gesteek. Inwoners het beamptes begin aanval wat volgens hulle betrokke is by stropery. Die bewerings kan egter nie bevestig word nie.
Die regering het ‘n beroep op die publiek gedoen om kommentaar te lewer op ‘n onafhanklike verslag wat aanbeveel dat bykomende items van Belasting op Toegevoegde Waarde uitgesluit moet word. Kommentaar kan tot die einde van die maand gelewer word op die verslag wat aanbeveel dat witbrood, brood- en koekmeel, sanitêre produkte, skooluniforms en weggooidoeke van BTW vrygestel word. Die verslag is Vrydag aan die minister van finansies, Nhlanhla Nene, voorgelê nadat hy vroeër ‘n paneel aangestel het om die uitwerking van die onlangse verhoging in die BTW-koers van 14 tot 15 present te ondersoek.
Sewe mense is die naweek op Wes-Kaapse paaie dood. Die provinsiale verkeershoof, Kenny Africa, se ses van die oorledenes is in motorbotsingsdood en ‘n voetganger is op die N2 naby Mosselbaai omgery.
Die polisiegebou waar bote te water gelaat word is in die Houtbaai-hawe aan die brand gesteek. ‘n Woordvoerder van verkeer in Kaapstad, Maxine Bezuidenhout, sê hulle het die paaie om die gebou gesluit aangesien betogers nog op die toneel is. Sy sê brandbestryders is op die toneel. Bezuidenhout sê die rede vir die brandstigting is in hierdie stadium nog onbekend.
Die burgemeester van Johannesburg, Herman Mashaba, sê hy gaan die Gelykheidshof nader om op te tree teen die Gupta-broers, Atul en Ajay, oor hul beweerde rassistiese opmerkings teen swart Suid-Afrikaners. Mashaba sê hy het in Junie ‘n ope brief aan die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, Shaun Abrahams, geskryf waarin hy hom 60 dae gee om teen die Guptas op te tree na onthullings oor korrupsie en beweerde rassistiese gedrag. Hy sê hy het nog geen reaksie ontvang nie.
Die Kaapstad-metro sê hy het sy koolstofvrystelling met vier-komma-een persent verminder. Kaapstad se burgemeester, Patricia de Lille, sê die verlaging in koolstofvrystellings is grootliks te wyte aan ‘n daling in elektrisiteitsverbruik asook die vervanging van straatlampe met LED-gloeilampe.
Regskenners in Zimbabwe verwag dat die Konstitusionele Hof binne die volgende 14 dae die opposisie-MDC-alliansie se saak sal aanhoor wat die uitslag van die presidentsverkiesing betwis. Die inhuldiging van Zimbabwe se verkose president, Emmerson Mnangagwa, wat vandag sou plaasvind, is Vrydagmiddag laat uitgestel nadat die regspan van die van die MDC-leier, Nelson Chamisa, dokumente by die hooggeregshof in Harare ingedien het.
Die DA in die Noord-Kaap gaan aan die LUR vir Onderwys, Martha Bartlett, skryf en haar versoek om dringend in te gryp by die jongste voorval in die provinsie waar ‘n skool gesluit moes word weens rioolstortings. Dit volg na die party se inspeksie by die Barkley-Wes laerskool in De Beershoogte by Barkley-Wes Vrydag. Die DA se plaaslike raadslid, Daisy Hendricks, sê die departement moet proaktief optree in die geval van die talle dreigende sanitasiekrisisse by skole in die provinsie.
‘n Voorlopige verslag oor die vliegtuigongeluk verlede maand by die Wonderboom-lughawe in Pretoria bevat ‘n aantal verdoemende bevindings. Die vliegtuig was op ‘n toetsvlug nadat dit voorberei is vir sy laaste vlug na ‘n museum in Nederland. Dit het kort na opstyging neergestort. Twee mense is dood en nog 26 is beseer. ‘n Woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerhede, Kabelo Ledwaba, sê hulle het daaraan geslaag om ‘n voorlopige verslag vry te stel binne 30 dae soos onderneem is. Ledwaba sê die burgerlugvaartowerhede sal slegs kommentaar lewer, indien nodig, na die vrystelling van die finale verslag.
Die Amerikaanse ruimte-agentskap, NASA, het vanoggend sy eerste ruimtetuig na die son gelanseer, die naaste ster aan die aarde. Die beplande lansering gister is weens ‘n gasalarm kort voor opstyging by Kaap Canaveral in Florida uitgestel. Die onbemande Parker-ruimtetuig, so groot soos ‘n motor, sal die vinnigste mensgemaakte voorwerp in die geskiedenis wees. Daar word gehoop dat sy data sommige van die son se geheimenisse sal kan ontrafel.
Ondersoekers in Amerika sê ‘n lid van die grondpersoneel wat ‘n passasiersvliegtuig gesteel het by die Seattle internasionale lughawe het nie ‘n vlieglisensie gehad nie. Die vliegtuig het lugtoertjies uitgevoer voordat die vliegtuig sonder passasiers neergestort het. Die polisie sê die 29-jarige man, wat omgekom het in die ongeluk, het selfmoordneigings getoon. Hy het drie jaar by Horizon Air gewerk waar hy vliegtuie geskuif en skoongemaak het, en bagasie gelaai het.
Noordwes se Staande Komitee oor Openbare Rekeninge het weer beklemtoon dat alle kwessies in die Ouditeur-Generaal se verslag oor provinsiale regeringstenders aangespreek moet word. Die 2017/2018-verslag het getoon dat Noordwes doelbewus reëls vir die bestuur van aankoopstelsels oortree het. Die provinsie het meer as 400 miljoen rand deur sulke transaksies verloor. Een van die projekte was Wifi-stelsels wat by openbare biblioteke deur NEPO Data Dynamics aangebring sou word. Vyf van die stelsels wat 800-duisend kos, is teen vyf miljoen rand elk aangekoop. Skoor se verteenwoordiger vir kuns en kultuur, Boitumelo Moiloa, sê iemand moet daarvoor verantwoordelikheid neem en die nuwe premier moet voor die komitee verduidelik hoe hy dit gaan hanteer.
‘n Vergadering om onwettige immigrante te bespreek by Herschel naby Sterkspruit in KwaZulu-Natal, het byna gewelddadig geraak. Lede van die tradisionele leierskomitee het uit die vergadering gestap en sê hulle lewens is in gevaar. Gemeenskapslede beweer dat mense van Lesotho onwettig toegang tot grond, maatskaplike toelae en HOP-behuising het. Die voorsitter van die Gemeenskap-polisiëringsforum, Mthetheli Mnothoza, sê die regering moet dringend die instroming van onwettige immigrante na die provinsie keer. ‘n Woordvoerder van die provinsiale Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Mmakeli Ngam, sê die kwessie is ingewikkeld en benodig die samewerking van alle relevante regeringsdepartemente.
Een van die grootste temaparke in Frankryk gebruik ‘n ongewone groep werkers om te help om van afval ontslae te raak. Ses kraaie is geleer om afval op te tel en die terrein netjies te help maak. Die kraaie by die Puy du Fou-park is geleer om sigaretstompies en stukkies rommel op te tel en in ‘n spesiale houer te gooi, wat hulle dan met ‘n lekkerny beloon. Die kraaie het gou verstaan wat van hulle verwag word en is reeds aan diens. Nog kraaie sal aanstaande week ingespan word. Die hoof van die park sê hulle hoop dat die kraaie vir mense sal wys hoe die natuur self na die omgewing kan omsien.
Grenspos het slegs twee rekenaars
Die grenspos by Beitbrug het slegs twee rekenaars in werking in plaas van die sestien soos voorgeskryf.
Verouderde tegnologie lei tot verdere probleme en reisigers verduur lang ure van vertragings weens die probleem.
Die Afrika manier van omkopery is klaarblyklik wel in werking waar ‘n R200 noot jou vinniger kan deurlaat terwyl Zimbabwiërs vrylik na Suid Afrika “deurloop” sonder enige prosessering.
Bron: Die Vryburger
Bankrot Pad Ongelukke Fonds vervang
‘n Nuwe wet gaan voorgelê word om die huidige Pad Ongelukke Fonds te vervang.
Volgens voorstelle gaan slagoffers van pad ongelukke vergoeding in paaiemente ontvang in plaas van ‘n eenmalige betaling. Eise kan ook direk ingestel word by die administrateurs van die fonds.
Dit is tans onduidelik of die gebruik van prokureurs om eise in te stel, geskrap gaan word.
Bron: Die Vryburger
Durban kampus gesluit
Die Durban Westville kampus van die Universiteit van Natal sal gesluit wees tot 12 Augustus 2018. Botsings tussen polisie en studente het weereens klasse ontwrig en ‘n kleedkamer en toilet is aan die brand gesteek.
‘n Lid van die sekuriteitsafdeling is beseer en soos in meeste gevalle is geen arrestasies gemaak nie.
Intussen is die Universiteit van Venda onbepaald gesluit na gewelddadige betogings by die kampus.
Bron: Die Vryburger
FeesMustFall koste naby R800 miljoen
Die bandelose optrede van studente tydens die FeesMustFall betogings het meer as R786 miljoen se skade aangerig by universiteite.
Naledi Pandor het in antwoord op vrae in die parlement aangedui hoe laboratoriums, biblioteke en geboue vernietig is op kampusse regoor die land.
Noordwes Universiteit het R198 miljoen se skade gelei, die Universiteit van Johannesburg bykans R144 miljoen terwyl Universiteit Natal se skade R100 miljoen beloop.
Waarnemers sê dit is skrikwekkend dat dit die toekomstige “leiers” van die land moet wees wat alles afbreek en afbrand wat voorkom.
Bron: Die Vryburger
Plakkers op Stellenbosch plaas
Plakkers het weer begin om hul hutte op te rig op ‘n wynplaas nadat ‘n hofbevel verkry is teen hul optrede.
Die plakkers het verlede week hutte op Watergang opgerig wat deel is van die Louisenhof wyn landgoed.
Die opstokers blyk te wees die ANC jeugliga wat verklaar dat daar nie gewag moet word vir die opsomming van die Gesamentlike Konstitusionele Hersieningskommissie se verslag nie.
Bron: Die Vryburger
ANC druk kop in die grond
Na ‘n in diepte ondersoek en publikasie daarvan deur die New York Times oor die lewe van adjunkpresident David Mabuza en hoe hy na bewering miljoene rande se “skoolgeld” gebruik het om lojaliteit te koop en sy magsbasis te verskerp, het die ANC 48 uur later geen verklaring, erkenning of ontkenning laat blyk rondom die bewerings nie. Selfs Mabuza se kantoor swyg in al elf landstale.
Volgens die NY Times is Mabuza se skaduagtige verlede besig om enige kredietwaardigheid vanuit ANC geledere se verklaring dat korrupsie gestop gaan word te kelder.
Die stilte vanuit beide ANC geledere en Ramaphoza se kantoor dui op ‘n skuldige gewete.
Bron: Die Vryburger
Oos-Transvaalse grond nie gesteel
Die grondgebied van die hedendaagse Mpumalanga is van niemand gesteel of afgeneem nie, maar Voortrekkers het dit bekom van die destydse Swazi-koning deur onder meer ruilhandel met vee.
Die Swazi-koning Mswati III het op 2 Augustus hierdie bevestiging gegee in ʼn gesprek tussen die koning en ʼn afvaardiging van verskillende groeperinge uit die Afrikanergemeenskap onder leiding van mnr. Werner Weber, die VF Plus se provinsiale leier in Mpumalanga.
Die doel van die samesprekinge was om te praat oor grond in Suid-Afrika wat boere in historiese ooreenkomste wettiglik van die Swazi’s bekom het, om sodoende die boodskap hard en duidelik aan die ANC-regering te stuur dat dit ʼn kwaadwillige mite is dat grond in Suid-Afrika van swartes gesteel is.
Na afloop van die samesprekings het die groepe op die volgende ooreengekom:
- Die goeie verhouding wat lank reeds tussen Afrikaners en die inwoners van Swaziland bestaan, is versterk en herbevestig;
- Afrikaners erken die koninkryk en die mense van Swaziland as die oorspronklike eienaars van onder meer die grondgebied in en om Mpumalanga;
- Die toenmalige Swazi-koning het grond in dié gebied aan die Voortrekkers toegeken deur ooreenkomste in die jare 1800. Die huidige koning bevestig dat die grond nie gesteel was nie;
- Die partye stem saam dat enige pogings om die patroon van grondeienaarskap van die huidige eienaars in en om Mpumalanga te verander, voorafgegaan moet word deur ʼn ooreenkoms met die Koninkryk van Swaziland soos reeds versoek is aan vorige Suid-Afrikaanse regerings.
Die partye stem saam om voort te gaan met gesprekvoering rakende dié aangeleentheid en sal bly streef na ʼn werkbare oplossing.
Bron: Die Vryburger
Duisende pasiënte in Gauteng verwaarloos
Meer as 20 000 gevalle is aangemeld waar pasiënte in staatshospitale benadeel is as gevolg van nalatigheid van personeel.
Chris Hani is tans die gevaarlikste hospitaal met meer as 4 200 gevalle in 30 maande. Steve Biko in Pretoria het bykans 1 800 gevalle gehad.
Gwen Ramakgopa, die verantwoordelike minister, het erken dat meeste gevalle die gevolg is van nalatigheid, die onvermoë van personeel, menslike foute en sisteme wat ineenstort. Wat nog meer kommerwekkend is, is dat opleidingshospitale die hoogste gevalle registreer en dit is waar voornemende dokters opgelei word. Hierdie gevalle lei dikwels tot siviele eise teen die hospitale en die staat.
Bron: Die Vryburger
139 plase geoormerk vir grond diefstal
Die regering, oftewel die ANC, het glo klaar 139 plase geïdentifiseer wat geoormerk is vir grond onteiening sonder vergoeding.
Die plase sal as “proefkonyne” gebruik word vir die proses.
Die land het reeds sedert 1994 vele voorbeelde gesien waar plase wat produktief was “weggegee” is aan die agtergeblewenes net om na ‘n jaar of twee te verval in bankrotskap. Goeie voorbeeld is die Zebediela lemoen boerdery in verre Noord-Transvaal asook die Vrede melkplaas.
Beide TLU SA en Agri SA het aangedui dat hulle die sake in die hof gaan betwis.
Bron: Die Vryburger
Die Weer
Temperature vir vandag vir die hoof Sentra in die land soos deur die Suid Afrikaanse Weerburo
Warmbad – mooi weer tot warm
Min 17 Max 28
Nelspruit – mooi weer tot baie warm
Min 16 Max 32
Pretoria – mooi weer tot warm
Min 19 Max 28
Johannesburg – ‘n Sonnige dag met matige temperatuur
Min 16 Max 24
Vereeniging – mooi weer tot warm
Min 16 Max 27
Rustenburg – sonnig en warm
Min 15 Max 27
Bloemfontein – sonnig en matige temperatuure
Min 12 Max 25
Kimberley – mooi weer tot watm
Min 15 Max 28
Durban – mooi weer tot warm
Min 18 Max 23
Oos London – bewolk met motreën plek plek
Min 16 Max 19
Upington – mooi weer en matig tot warm
Min 13 Max 24
Kaapstad – bewolk en koud met ligte reen plek plek
Min 8 Max 14
Port Elizabeth – gedeeltelik bewolk en koud
Min 14 Max 17
En laastens
Sutherland – ysige koue dag met mot reën
Min 0 Max 8