You are currently viewing Potgooi – Nuus & Weer 9H30 14 Augustus 2018

Potgooi – Nuus & Weer 9H30 14 Augustus 2018

Nuus & Weer Aangebied weeksdae om 9H30 (CAT)

14 Augustus 2018 aangebied deur Yolanda

klik HIER om weer te luister

https://archive.org/details/yol2018-08-14.092950

Kennisgewing

  1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berig skrywer.
  3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda

Die Nuus word aangebied in samewerking tussen Netradiosa & FM stereo & FM Gospel Active Live

Nuus

Die voorsitter van die Staande Komitee oor Openbare Rekeninge, Themba Godi, sê hy is vol vertroue dat die maatskaplikesekerheidsagentskap, Sassa, die haakplekke in die uitbetaling van maatskaplike toelae sal kan uitstryk. Die Poskantoor sal aan die einde van September die uitbetalings by Cash Paymaster Services oorneem. Godi en die waarnemende uitvoerende hoof van Sassa, Abraham Mahlangu, het met begunstigdes in Polokwane vergader en hulle die versekering gegee dat betaalpunte nie gesluit sal word nie.

Die Departement van Binnelandse Sake sê al sy stelsels is weer in werking en alle kantore sal van vandag af normale dienste lewer. Vertragings het Vrydag voorgekom met die uitreiking van geboorte-, huweliks- en doodsertifikate, asook slim ID-kaarte en paspoorte. Die vertragings was weens ‘n tegniese probleem by die Staatsinlingtingstegnologie-agentskap. Die waarnemende direkteur-generaal van binnelandse sake, Thulani Mavuso, sê die toetsing van die stelsel is voltooi en hy verwag nie verdere probleme nie.

Leiers van die DA in die Wes-Kaap sal vandag die verkiesing van ‘n nuwe burgemeester van Kaapstad bespreek. Die uittredende burgemeester, Patricia de Lille, het sowat ‘n week gelede bedank ná ‘n uitgerekte geskil met die DA. Die DA-leier in die provinsie, Bonginkosi Madikizela, sê die kriteria vir aansoekers is op die agenda van vandag se vergadering.

Die premier van Noordwes, Job Mokgoro, het daarop gesinspeel dat ‘n skommeling van die provinsiale uitvoerende komitee, onafwendbaar is. Sedert Mokgoro die leisels by Supra Mahumapelo oorgeneem het, het hy ‘n ondersoek na alle LUR’e ingestel. Mahumapelo is in Mei gedwing om te bedank na grootskaalse protesoptrede oor sy leierskap. Sommige van die gevolge was dat talle departemente in Noordwes onder administrasie geplaas is.

Die oudpremier van Noordwes, Supra Mahumapelo, het vroeër gesê hy sien niks daarmee verkeerd dat die huidige premier, Job Mokgoro, die provinsiale regeringsprogramme wat hy ingestel het, gekanselleer het nie. Mahumapelo se kritici, onder wie opposisiepartye, beweer dat sy programme ten doel gehad het om staatsfondse te plunder. Mahumapelo sê Mokgoro se nuwe leierskapstyl moet ondersteun word.

Die dodetal in die naweek se busongeluk op die R66 tussen Melmoth en Eshowe in KwaZulu-Natal het tot ses gestyg. Lede van die 12 Apostels-kerk was van Johannesburg onderweg na Empangeni vir die kerk se 40ste herdenking toe die ongeluk gebeur het. ‘n Saak van strafbare manslag word ondersoek. Opdrag is ook gegee om die R66-deurpad te ondersoek waar ongelukke gereeld voorkom. In 2013 is tien mense in dieselfde omgewing in ‘n botsing dood. Die KwaZulu-Natalse LUR vir vervoer, Mxolisi Kuanda, en die sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule, het gister die ongelukstoneel besoek en hul medelye aan die naasbestaandes betuig.

Die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, Shaun Abrahams, sal vandag weet wat sy toekoms inhou wanneer die Konstitusionele Hof oor die kwessie uitspraak lewer. Die Hof het in Februarie uitspraak voorbehou oor ‘n aansoek om twee verklaringsbevele te bekragtig dat Abrahams se aanstelling ongeldig was. Die Hooggeregshof in Pretoria het in Desember verlede jaar verklaar dat oudpresident Jacob Zuma ongrondwetlik opgetree het toe hy Mxolisi Nxasana as nasionale direkteur van openbare vervolging, met Abrahams vervang het. Die aansoek is deur twee nieregeringsorganisasies – Corruption Watch en Freedom under Law – gebring. Abrahams en die NVG het teen die beslissing om sy aanstelling ter syde te stel geappelleer.

Vyf verdagtes wat in hegtenis geneem is in verband met die transitorooftog verlede maand in Atlasweg aan die Oosrand, verskyn vanoggend weer in die landdroshof in Boksburg. Die vyf is aangekeer nadat twee geldwaens onderweg na ‘n bank beroof is. Die rowers het die geldwaens van G4S met plofstof oopgeblaas. Minstens agt mense is beseer. Die verdagtes word aangekla van moord, roof met verswarende omstandighede, die besit van plofstof, ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, asook kwaadwillige saakbeskadiging.

 

Die rand het ietwat herstel nadat hy vanoggend tot vyftien-rand-41-sent teenoor die vernaamste geldeenhede getuimel het – sy laagste vlak in twee jaar. Die rand het tot dusver vanjaar met 15 persent verswak, hoofsaaklik weens ‘n stewiger dollar en beleggers wat fondse uit ontluikende markte onttrek het. Nog ‘n groot rede is die onsekerheid oor die ANC se beleid oor grondhervorming en die ekonomie. Die rand het ‘n rukkie gelede teen 14-rand-38 teenoor die dollar verhandel; 18-rand-42 teenoor die Britse pond en 16-rand-49 teenoor die euro.

Die DA-leier, Mmusi Maimane, sal die media vanoggend in Kaapstad inlig oor die vordering in DA-munisipaliteite. Die DA het verskeie munisipaliteite in die Plaaslike Regeringsverkiesing twee jaar gelede oorgeneem, waarvan die meeste in koalisie met ander partye is. Maimane sal vergesel word deur onder andere die burgemeesters van die munisipaliteite van Kouga in die Oos-Kaap, Modimolle-Mookgophong in Limpopo en Drakenstein in die Wes-Kaap.

Intussen sal die DA in die Wes-Kaap ook vandag vergader oor ‘n nuwe burgemeester vir Kaapstad. Patricia de Lille het sowat ‘n week gelede haar bedanking aangekondig. Die DA se Wes-Kaapse leier, Bonginkosi Madikizela het bevestig dat die kwessie op die agenda is.

Openbare sittings oor die wetsontwerp op tradisionele inisiasie, begin vandag in die Oos-Kaap. Die doel van die sittings is om die publiek se sienings te kry, sodat inisiasiepraktyke gereguleer kan word. Die eerste sitting begin vanoggend in Port Elizabeth. Die voorsitter van die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Richard Mdakane, sê provinsies het reeds hul eie wetgewing wat besnydenis en inisiasieskole reguleer. Hy sê die onlangse sterftes van jongmans by dié skole, toon dat wetgewing op nasionale vlak noodsaaklik is.

Die staking deur busbestuurders van die Thari Transport-busdiens in Brits in Noordwes duur voort. Talle pendelaars, meestal leerders en werkers, sal vandeesweek vir die derde week gestrand wees, weens die staking deur sowat 200 busbestuurders. Hulle eis verduidelikings oor hul voorsorgfondsgeld en waarom sommige werkers die Inkomstediens tot soveel as 15 duisend rand skuld. Meer as 30 dorpe en sewe informele woongebiede word deur die staking geraak.

Metrorail sê die treindiens op Kaapstad se noordelike spoorverbinding is herstel. Treine van Wellington kon vroeër slegs tot by Klapmuts-stasie ry weens ‘n kragonderbreking by die Hugenote-stasie in die Paarl. Metrorail se woordvoerder, Riana Scott, sê die vertragings het voorgekom weens kabeldiefstal by Dal Josefat.

Twee mense is gisteraand in afsonderlike motorongelukke in die Wes-Kaap dood. Die provinsie se verkeershoof, Kenny Africa, sê dié sterftes bring die dodetal op die provinsie se paaie die afgelope naweek op nege te staan. Africa sê ‘n man is laat gisternag dood toe die voertuig waarin hy ‘n passasier was op die N-1 naby Touwsrivier omgeslaan het. In nóg ‘n ongeluk is ‘n 49-jarige voetganger op die N-2 by Pacaltsdorp naby George dood toe hy raakgery is.

Vyf verdagtes wat in hegtenis geneem is in verband met die transitorooftog verlede maand in Atlasweg aan die Oosrand, verskyn vanoggend weer in die landdroshof in Boksburg. Die vyf is aangekeer nadat twee geldwaens onderweg na ‘n bank beroof is. Die rowers het die geldwaens van G4S met plofstof oopgeblaas. Minstens agt mense is beseer. Die verdagtes word aangekla van moord, roof met verswarende omstandighede, die besit van plofstof, ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, asook kwaadwillige saakbeskadiging.

Die stemtellery in die herverkiesing in Mali gaan voort te midde van die dood van ‘n voorsittende kiesbeampte en sowat honderd stemlokale wat moes sluit weens ‘n bedreiging deur ekstremiste. Die militante het gister op ‘n stemlokaal in Arkodia in die Timboektoe-streek toegeslaan en die voorsittende kiesbeampte wat probeer vlug het, doodgeskiet. Die 73-jarige President Ibrahim Boubacar Keita sal na verwagting vir ‘n tweede termyn staan. Sy teenstander, Soumalia Cisse, beweer dat daar verkiesingsbedrog was. Vrede in Mali is van groot belang omdat dit die vernaamste roete is vir onwettige immigrante wat Europa probeer bereik.

 

Die Vryheidsfront Plus het weer ‘n beroep gedoen op die minister van landelike ontwikkeling en grondsake, Maite Nkoana-Mashabane, om die lys bekend te maak van die 139 plase wat volgens die ANC vir onteiening sonder vergoeding geoormerk is. Die leier van die VF Plus, Pieter Groenewald sê grondeienaars wat deur die onteiening geraak sal word, moet sekerheid kry. Die party het reeds verlede week in die parlement versoek dat die lys bekend gemaak moet word. Groenewald sê die gelekte lys wat AfriForum bekend gemaak het, skep tans groot angs, verwarring en ontsteltenis by eienaars wie se plase op die lys voorkom. Hy sê die planne is lynreg in botsing met pres. Cyril Ramaphosa se uitsprake dat onteiening sonder vergoeding nie voedselsekerheid in die gedrang sal bring nie, en die amptelike lys moet in belang van voedselsekerheid dadelik bekend gemaak word.

Agri SA het intussen die status en inhoud van die uitgelekte lys van plase bevraagteken wat die naweek bekendgemaak is en tot paniek onder grondeienaars gelei het. Die president van Agri S.A, Dan Kriek het in ‘n verklaring gesê die organisasie is besig om die geloofwaardigheid van die lys van plase te verifieer. Kriek sê dit is onverantwoordelik van AfriForum om onbevestigde inligting te publiseer.

Verbruikers moet hulle staal vir verdere stygings in die brandstofpryse weens die swak rand. Ontleders sê in weerwil van die bestendigheid in die prys van Brent Ruolie, word die vooruitsigte van laer brandstofpryse uitgeskakel deur die wisselvalligheid van die rand. Die geldeenheid het vroeër vandag teen 15 rand 41 sent teen die dollar verhandel, maar later herstel tot ongeveer 14 rand 45 sent. ‘n Ekonoom van Econometrix, Laura Campbell sê indien die olieprys bestendig bly op 72 of 73 dollar per vat, sal brandstofpryse bepaal word deur die vertoning van die rand vir die res van die maand.

Die voormalige hoof van die NVG, Mxolisi Nxasana, sê hy voel geregtigheid het geskied nadat die Konstitusionele Hof bevind het dat sy verwydering as hoof van die NVG ongeldig en ongrondwetlik was. Hy erken egter dat die die afgelope drie jaar sedert oudpresident Jacob Zuma sy diens beëindig het, baie moeilik was. Nxasana sê die uitspraak vanoggend in die Konstitusionele Hof bring hom voor ‘n groot uitdaging te staan. Regter Mbuyiseli Madlanga het beslis dat Nxasana tien-komma-drie miljoen rand van sy goue handdruk van 17-miljoen rand moet terugbetaal. Nxasana sê hy sal die hofbevel probeer eerbiedig, maar kan probleme ondervind om die uitstaande bedrag terug te betaal. Hy wys daarop dat hy die afgelope drie jaar nie werk gehad het nie. Volgens hom het hy sy regspraktyk van meer as 15 jaar laat vaar toe hy as hoof van NVG aangestel is.

 

‘n Finansiëledienstemaatskappy in Kaapstad het sy eie watersuiweringsaanleg opgerig wat skoon drinkwater aan meer as nege duisend werknemers sal voorsien. Die aanleg by Mutualpark in Pinelands sal tot 15 miljoen liter skoon water per maand lewer deur afvalwater te suiwer. Old Mutual se bedryfshoof, Iain Williamson, sê die maatskappy sal met dié aanleg voortaan sy eie water voorsien sodat hy nie langer op water van die Kaapstadse metroraad hoef staat te maak nie. Hy sê voorlopige toetse toon dat die water van uitstaande gehalte is.

Die Weer

Temperature vir vandag vir die hoof Sentra in die land soos deur die Suid Afrikaanse Weerburo

Warmbad – mooiweer tot warm

Min 17 Max 30

Nelspruit –  mooiweer tot baie warm

Min 16 Max 32

Pretoria – mooiweer tot warm

Min 19 Max 29

Johannesburg –  sonnige dag

Min 16 Max 24

Vereeniging – mooiweer tot warm

Min 17 Max 26

Rustenburg – mooiweer tot warm

Min 15 Max 28

Bloemfontein – mooiweer tot matig warm

Min 12 Max 23

Kimberley – mooiweer tot warm

Min 12 Max 26

Durban – gedeeltelik bewolk tot warm met mot reën plek plek

Min 13 Max 21

Oos London – bewolk met verspreide reën buie

Min 16 Max 18

Upington –gedeeltelik bewolk en koud

Min 10 Max 24

Kaapstad – gedeeltelik bewolk met verspreide reën buie plek plek

Min 12 Max 16

Port Elizabeth –   bewolk en koud met verspreide tot swaar reën buie

Min 13 Max 17

En laastens

Sutherland – baie koud met sneeu van 5mm word verwag

Min -2 Max 1


 

Leave a Reply