Nuus & Weer Aangebied weeksdae om 9H30 (CAT)
15 Augustus 2018 aangebied deur Yolanda
klik HIER om weer te luister
https://archive.org/details/yol2018-08-15.093953
Kennisgewing
- Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
- Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berig skrywer.
- Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda
Die Nuus word aangebied in samewerking tussen Netradiosa & FM stereo & FM Gospel Active Live
Nuus
Die Nasionale Weermag sê hy het die regering sedert Maart sowat tien miljoen rand bespaar met sy optrede op die grens met Mosambiek. Die bataljonbevelvoerder, luitenant-kolonel Tiger Johnson sê in dié tyd het hulle meer as sewe miljoen rand se gesteelde voertuie teruggevind en beslag gelê op meer as een komma ses miljoen rand se dagga. Hulle het ook 28 onwettige immigrante in hegtenis geneem op onwettige wapens beslag gelê. Johnson het op ‘n nuuskonferensie In Pongola gesê die Weermag patrolleer ook die grens en is betrokke by gemeenskapsprojekte.
Die Presidensie sê President Cyril Ramaphosa bestudeer die Konstitusionele Hof se uitspraak oor Shaun Abrahams en sal toesien dat die leierskapsprobleme by die Nasionale Vervolgingsgesag dringend aandag ontvang. Die Presidensie sê Ramaphosa neem kennis van die beslissing dat hy binne 90 dae `n nuwe NVG-hoof moet aanstel. Die hof het beslis dat oudpresident Jacob Zuma ongrondwetlik opgetree het toe hy Abrahaams se voorganger, Mxolisi Nxasana, ‘n goue handdruk van 17-miljoen rand gegee, en Abrahams aangestel het. Nxasana moet tien-komma-drie miljoen rand daarvan terugbetaal.
Die ANC het intussen die Konstitusionele Hof se beslissing oor Abrahams verwelkom. `n ANC-woordvoerder, Pule Mabe, sê Ramaphosa het nou die geleentheid om die leierskapskwessies by die NVG vinnig op te los.
Die Gautrein-bestuur sê hul treindienste behoort van môre* af weer normaal te wees. Die beperkte diens sal vandag nog in werking wees. Die staking deur werkers die afgelope twee weke weens ‘n salarisgeskil, is gister beëindig. Die vakbond Untu – ‘n lid van die vakbondfederasie Fedusa – sê hy het ‘n mandaat van sy lede ontvang om die werkgewer se aanbod te aanvaar. Werkers kry ‘n salarisverhoging van agt persent, en ‘n behuisingtoelae van 900 rand, terwyl hul minimumsalaris op agt-duisend-vyfhonderd rand vasgestel is.
Rugby: Die Springbokke is vol vertroue dat hulle die eerste wedstryd in vanjaar se Kampioenskapsreeks Saterdag in Durban teen Argentinië sal wen, maar verwag nogtans `n taai stryd van die besoekers. Die Suid-Amerikaners het `n nuwe afrigter in die 45-jarige Mario Ledesma. Ledesma, wat voorheen as haker vir Argentinië se Poemas uitgedraf het, is as bryer van die nasionale span aangestel nadat hy vanjaar groot sukses met die streekspan, die Jaguares, in die Super Rugbyreeks behaal het. Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, sê die Bokke kan nie die Poemas onderskat nie. Hy sê die Jaguares het vanjaar bewys waartoe hulle in staat is toe hulle in sewe agtereenvolgende wedstryde al die Suid-Afrikaanse streekspanne geklop het.
Die DA-leier, Mmusi Maimane het ‘n beroep op President Cyril Ramaphosa gedoen om die Parlement te betrek by die proses om ‘n nuwe direkteur van die Nasionale Vervolgingsgesag aan te stel. Hy sê hoewel Ramaphosa nie verplig is om dit te doen nie, sal dit die regte stap wees om die geloofwaardigheid van die Vervolgingseenheid te herstel. Maimane sê die proses om ‘n nuwe Vervolgingshoof aan te stel, behoort deursigtig te wees. Ramaphosa het 90 dae tyd om die aanstelling te doen. Die Konstitusionele Hof het gister beslis dat Shaun Abrahams se destydse aanstelling ongrondwetlik en onregmatig was.
President Ramaphosa sal vanoggend die regering se planne vir sanitêre infrastruktuur in veral die platteland aankondig. Dit volg op openbare kritiek teen die departement van Basiese Onderwys se onvermoë put-toilette by skole te vervang. Ramaphosa sal na verwagting saam met verteenwoordigers van die VN se Kinderfonds, die Nelson Mandela-stigting en ander burgerregte-organisasies hul steun toesê aan`n veldtog om leerders se waardigheid te verbeter. Die Hooggeregshof in Bhisho het verlede maand beslis dat die regering ongrondwetlik optree deur nie onveilige infrastruktuur by skole op te knap nie. ‘n Aantal kinders het die afgelope paar jaar in puttoilette gesterf. Amptenare sê hulle doen hul bes doen om die agterstand met die oprigting van spoeltoilette uit te wis.
Henri van Breda se aansoek om appél teen sy skuldigbevinding en vonnis sal vandag* in die hooggeregshof in Kaapstad aangehoor word. Van Breda is in Mei skuldig bevind aan die moord op sy ouers en broer en poging tot moord op sy suster aangeval het. Hy is tot drie keer lewenslange tronkstraf gevonnis en nog 15 jaar vir poging tot moord op sy suster. Die hof het bevind dat Van Breda in 2015 sy familie met `n byl in die De Zalze-landgoed by Stellenbosch aangeval het. Regter Siraj Desai het in sy uitspraak gesê Van Breda het geen teken van berou getoon nie.
Die onafhanklike polisieondersoek-direktoraat, Opod, het drie polisielede by Muden naby Greytown in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem op ‘n aanklag van moord. Die drie is aangekeer in verband met die verdwyning van die 37-jarige Mbongiseni Ndlela wat homself op 2 Augustus by die polisie aangemeld het vir ondervraging in verband met `n moordsaak. Ndlela het egter nie teruggekeer huistoe nie, waarna sy familie antwoorde van die polisie geëis het. `n Woordvoerder van Opod, Moses Dlamini, sê die polisielede is in hegtenis geneem nadat Ndlela se liggaam gevind is. Hulle sal *môre in die hof verskyn.
Taxi-operateurs in George in die Suid-Kaap sê hulle sal slegs hul diens hervat indien die munisipaliteit die taxi’s wat geskut is, aan die eienaars terugbesorg. Die operateurs het hul taxibestuurders gister opdrag gegee om hul diens te staak en gesê hulle word onregverdig geteiken. Volgens hulle is 17 taxi’s geskut. Pendelaars was genoodsaak om alternatiewe vervoerreëlings te tref. Die operateurs het intussen samesprekings met die George-munisipaliteit gevoer. Die munisipaliteit het aangedui dat hy binnekort op die samesprekings sal reageer.
Talle inwoners van Durban het aan `n protesoptog oor die stygende brandstofpryse deelgeneem. Die optog deur die organisasie PAPPI, van die King Dinuzulu-park na die stadsaal, was deel van landwye protesoptrede teen brandstofprysstygings weensdie wisselende waarde van die rand en stygende oliepryse. PAPPPI glo egter die regering kan die brandstofpryse verlaag en dreig om alle hoofroetes te versper indien die regering nie aan hul eise gehoor geen nie. Die organisasie se sameroeper, Visvin Reddy, sê brandstofpryse kan tot agt rand per liter verlaag word indien die regering hul voorstelle aanvaar.
`n Indiese gesin in die staat Kerala het naelskraap aan die dood ontkom toe hulle weens hul hond se optrede uit die huis gevlug het kort voordat dit deur `n grondstorting meegesleur is. Die gesin wat in ‘n bergagtige gebied woon, het geslaap toe hulle drie-uur die oggend van hul hond se hewige geblaf wakker word. Hulle het uit hul huis gehardloop, en kort daarna gesien hoe die grond die woning tref. Die familie en die hond is intussen na `n regeringskamp vir daklose mense geneem. Oorstromings wees swaar reën in die gebied die afgelope tyd het die lewe van 39 mense geëis, terwyl duisende dakloos gelaat is.
‘n Geregtelike ondersoek is geopen na die dood van ‘n 58-jarige oudpolisieman en medeskrywer van die opspraakwekkende boek, Die Seuns van Bird Island, Mark Minnie, op ‘n plaas by Port Elizabeth. Die boek handel oor ‘n beweerde pedofielnetwerk waarby die destydse minister van verdediging, Magnus Malan, glo betrokke was. Die polisie sê Minnie het vandeesweek na ‘n vriend se plaas buite die stad vertrek vir ‘n ruskans. Sy vriend het hom dood aangetref met sy vuurwapen langs hom.
Die voorsitter van die Parlementêre Portefeulje Komitee oor Energie, Fikile Majola, het ‘n skerp waarskuwing gerig aan die minister van Energie, Jeff Radebe en lede van sy departement wat nie vanoggend by die komitee se sitting in Kaapstad, opgedaag het nie. Hulle moes die komitee toespreek oor die voortgesette brandstofprysstygings. Radebe is glo in die buiteland. Nie sy adjunk of enigeen van die departement het opgedaag nie en die komitee se sitting is verdaag. Majola het Radebe gemaan om te sorg dat hy Dinsdag by die sitting opdaag.
Die mynwerkersvakbond die N.U.M het kommer uitgespreek oor afleggings by mynmaatskappye landwyd. Dit volg nadat die goudprodusent, Gold Fields, vanoggend aangekondig het dat hy beplan om eenduisend-100 poste by die South Deep-myn te besnoei, wat sowat 30-persent van sy werkmag is. Die maatskappy sê hy het die afgelope vier jaar sowat vier miljard rand se verliese gely. ‘n Woordvoerder van die N.U.M, Livhuwani Mammburu, sê hy is teleurgesteld dat mynwerkers opgeoffer word vir wins. Hy sê hy hoop die Departement van Minerale Bronne sal ingryp om die werksverliese te keer.
Intussen toon syfers dat mynproduksie in Junie met 5-komma-nul-persent gestyg het in vergelyking met die vorige maand. Die mynmaatskappy, Platinum Group Metal, het die hoogste produksie gehad, gevolg deur diamantproduksie en ystererts. Goudproduksie het swak gevaar wat ‘n negatiewe uitwerking op algehele mynproduksie gehad het. Op ‘n jaargrondslag het mynproduksie met 2-komma-8-persent in Junie gestyg.
Die Minister van Justisie, Michael Masutha, die Minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, en die Minister van Polisie, Bheki Cele, sê miljarde rand se bedrog is na bewering met behulp van die staatsprokureur se kantoor gepleeg. Die Spesiale Ondersoekeenheid het met ‘n ondersoek na die bewerings begin na ‘n proklamasie deur President Cyril Ramaphosa verlede maand. Die hoof van die eenheid, Andy Mothibi, sê die ondersoek sal oor al nege provinsies strek. Masutha sê die ondersoek sal kyk na vals eise sowel as betalings van tot twaalf jaar terug. Volgens die ministers is meer as 80-miljard rand se bedrog reeds gepleeg. Motsoaledi het aangedui dat mediese praktisyne ook by die bedrog betrokke is.
Die SAUK het aangekondig dat ‘n nuwe ooreenkoms met Multichoice onderteken is. Die ooreenkoms sal verseker dat die 24-uur-nuuskanaal en SABC Encore steeds op die Dstv-platform uitgesaai sal word. Die groepbestuurshoof van die SAUK, Madoda Mxakwe, sê die ooreenkoms, wat vanoggend onderteken is, verskaf van die nodige befondsing sowel as sekerheid en bestendigheid vir die SAUK. Ingevolge die ooreenkoms sal die argiewe steeds ten volle deur die SAUK besit word.
President Cyril Ramaphosa het Dr Silas Ramaite as die waarnemende nasionale direkteur van Openbare Vervolging aangestel. Dit volg nadat die Konstitusionele Hof die aanstelling van Shaun Abrahams ongeldig verklaar het, en die president 90 dae tyd gegee het om ‘n nuwe hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag aan te stel. Ramaite was een van vier adjunkdirekteurs van die NVG wat in aanmerking was om as waarnemende hoof van die NVG aangestel te word. Die ander kandidate was Nomgcobo Jiba, Willie Hofmeyer en Nomvula Mokhatla. Ramaite is in 2003 as adjunk nasionale direkteur van Openbare Vervolging aangestel en het op twee vorige geleenthede as direkteur waargeneem.
Die polisie het bevestig dat ‘n selfmoordbrief en ‘n vuurwapen gevind is by die liggaam van die oudpolisiebeampte en medeskrywer van die omstrede boek Die Verlore Seuns van Bird Island, Mark Minnie. Die polisie sê die vuurwapen het nie aan Minnie behoort nie. Minnie se liggaam is op ‘n vriend se kleinhoewe in Theescombe naby Port Elizabeth in die Oos-Kaap gevind en die polisie het vroeër bevestig dat ‘n geregtelike doodsondersoek geopen is. Die boek handel oor ‘n beweerde pedofielnetwerk waarby die destydse minister van verdediging, Magnus Malan, na bewering betrokke was. Tafelberg Uitgewers het intussen medelye betuig met Minnie se familie. Volgens die uitgewers was Minnie passievol oor sy werk as polisieman, opvoedkundige en skrywer.
Die burgerregteorganisasie AfriForum sê die lys van plase wat vir onteiening geoormerk is en op sy webwerf verskyn, is eg. Dit ondanks die feit die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming die bestaan van so ‘n lys ontken. AfriForum en en die TLU het ‘n mediakonferensie in Pretoria oor die lys gehou. Die bekendmaking van die lys het kritiek uit verskeie oorde ontlok. AgriSA het AfriForum daarvan beskuldig dat hy onverantwoordelik optree en onsekerheid aanblaas oor die moontlike wysiging van artikel 25 van die Grondwet. ‘n Woordvoerder van AfriForum, Kalie Kriel, hou egter vol dat die lys wel eg is.
Die Weer
Temperature vir vandag vir die hoof Sentra in die land soos deur die Suid Afrikaanse Weerburo
Die weer
Warmbad – mooiweer tot warm
Min 13 Max 27
Nelspruit – mooiweer tot warm
Min 12 Max 15
Pretoria – mooiweer tot warm
Min 11 Max 26
Johannesburg – mooiweer tot warm
Min 11 Max 23
Vereeniging – ‘n sonnige dag
Min 12 Max 24
Rustenburg – mooiweer tot warm
Min 12 Max 27
Bloemfontein – ‘n koue dag
Min 7 Max 14
Kimberley – koel in die oggend met matig warm in die namiddag
Min 9 Max 15
Durban – bewolk tot matig warm
Min 14 Max 19
Oos London – bewolk en koud met verspreide reën buie plek plek
Min 12 Max 17
Upington – bewolk en koud
Min 8 Max 16
Kaapstad – bewolk met verspreide tot swaar reën plek plek
Min 11 Max 15
Port Elizabeth – ‘n koue dag
Min 7 Max 15
En laastens
Sutherland – regstreekse baie koue dag
Min -4 Max 5