You are currently viewing Potgooi – Nuus & Weer 9H30 16 Augustus 2018

Potgooi – Nuus & Weer 9H30 16 Augustus 2018

Nuus & Weer Aangebied weeksdae om 9H30 (CAT)

16 Augustus 2018 aangebied deur Yolanda

klik HIER om weer te luister

Kennisgewing

  1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berig skrywer.
  3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda

Die programme word aangebied in samewerking tussen Netradiosa & FM stereo & FM Active Gospel live

Nuus

Die kantoor van die Ouditeurgeneraal sê die meeste munisipaliteite in die Wes-Kaap het agteruit gegaan en swakker resultate as in die vorige geldjaar behaal. Die kantoor se provinsiale sakehoof, Sharrone Adams, het in Kaapstad met die media gepraat oor die munisipaliteite se swakker vertonings. Die oudit sluit al 30 munisipaliteite in die provinsie in. Adams sê in meeste gevalle was die agteruitgang omdat wetgewing nie nagekom is nie.

 

Die Rand het het gistermiddag met drie persent teenoor die Amerikaanse dollar verswak na `n waarskuwing van die graderingsagentskap, Moody’s, oor Suid-Afrika se stygende begrotingstekort. Die rand het van 14-rand-40 tot 14-rand-68 verswak. Die agentskap raam dat die land se begrotingtekort in die 2018/2019-geldjaar tot meer as vier persent van die Bruto Binnelandse Produk kan styg. Moody’s sê ook die loonooreenkomste in die openbare sektor plaas verdere druk op die begroting. Moody’s is die enigste van die drie groot internasionale graderingsagentskappe wat Suid-Afrika se staatskuld as beleggingsgraad beskou.

 

Die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, sê Suid-Afrika se ekonomie bly kwesbaar en sal stadig herstel. Hy sê die verbruikersaanvraag het in die tweede kwartaal van 2018 afgeneem, wat beteken dat vaste beleggings waarskynlik nie vanjaar beduidend sal toeneem nie. Kganyago het die Parlement se Staande Komitee oor Finansies oor verskeie kwessies ingelig, onder meer `n ekonomiese oorsig, die VBS Bank en die Reserwebank se jaarverslag

 

Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement sê hy het twee verslae van ontvoerings die afgelope twee weke in die Zonnenbloem-gebied in Kaapstad ontvang. `n Woordvoerder van die departement, Jessica Shelver, sê die verslae van die distrikskantore dui daarop dat leerders geteiken word waanneer hulle op pad skooltoe of terug huistoe is. Sy sê albei leerders is in `n bedwelmde toestand gevind. Shelver sê skole is gewaarsku oor die kommerwekkende voorvalle waar leerders bedwelm en dan ontvoer word. Volgens haar het hulle nog nie verslae van sulke voorvalle in ander gebiede ontvang nie.

 

 

Die LUR van die departement van maatskaplike onwikkeling in Gauteng, Nandi Mayathula-Khoza, sê 45 kleuters is uit `n kleutersentrum in Sharpville in die Vaal verwyder. Die sinkgebou was `n gesondheidsgevaar. Die sentrum is ook bestuur deur `n ongekwalifiseerde persoon en was nie geregistreer nie. Die sentrum is sedertdien gesluit.

 

Tulbagh in die Witzenberg-munisipaliteit is weer kalm nadat protestaksie oor dienslewering gelei het tot die sluiting van twee skole en verskeie sakeondernemings. Betogers het al die hooftoegangroetes met brande bande versper. Die Burgerlike Vereniging van Tulbagh eis dat plakkershutte wat opgerig is in ‘n informele woonbuurt afgebreek moet word. Hulle beweer ook dat die toekenning van behuising nie regverdig is nie.

 

 

Die Afghaanse ministerie van gesondheid sê minstens 48 mense is dood tydens ‘n ontploffing by ‘n onderwyssentrum in die hoofstad, Kaboel. Meer as 35 mense is gewond. Die ontploffing het in middagspitstyd gebeur. Volgens die polisie het die selfmoordbomdraer die onderwyssentrum vol studente binnegegaan en die plofstel voor in ‘n klas tussen die studente laat afgaan.

Dit is onseker of die mosie van wantroue in die burgemeester van die Nelson Mandelabaai Metro, Athol Trollip, vandag voortgaan. Sommige politieke partye kon nie gisteraand ooreenkom oor die voorgestelde burgemeesters- en adjunkburgemeesterskandidate nie. Die leier van die Patriotic Alliance, Gayton McKenzie, sê hulle sal nie teen Trollip stem nie. Die Patriotic Alliance, die African Independent Congress, United Front en die ANC kon nie gisteraand ooreenkom oor die kandidate wat die EFF en die UDM voorgestel het nie. Indien die wantrouemosie vandag voortgaan sal dit die derde poging wees om van Trollip as die DA-burgemeester, ontslae te raak. Die EFF en die UDM het Mongameli Bobani van die UDM as burgemeesterskandidaat voorgestel. Verlede week het die EFF aangedui dat hy nie vir die PA se kandidaat, Marlon Daniel sal stem nie.

Die DA sê hy gaan die ANC se bewerings ondersoek dat die Tshwane Metro in Pretoria geldelik geplunder word. Die ANC beweer dat `n konsultasiemaatskappy, GladAfrica, onwettig aangestel is sonder dat die nodige prosedure gevolg is. Miljoene rand is glo aan die maatskappy toegeken wat vir inwoners aangewend kon word. Die munisipale bestuurder, Moeketsi Mosola het die aantygings by `n nuuskonferensie ontken en sê hy is nie bewus van die wanbesteding van 12-miljard rand nie en die teendeel sal bewys word.

Eskom het `n dispuut met die vakbonde, NUMSA en die N.U.M, verklaar en sê die kragvoorsiener kan nie instem tot hul voorwaardes nie. Die vakbonde eis dat Eskom nie voortgaan met sy beplande tugoptrede teen werkers wat die afgelope weke by `n onbeskermde staking betrokke was nie. Eskomwerkers lewer ‘n noodsaaklike diens en het werksaamhede by sommige kragstasies tot stilstand gebring. Verlede week het die drie vakbonde, wat Solidariteit insluit, in beginsel Eskom se salarisverhogingaanbod en ander werksvoorwaardes vir die volgende drie jaar aanvaar. Die geskil vertraag die implementering van Eskom se aanbod van `n verhoging van sewe-komma-vyf persent vir vanjaar en sewe persent vir die daaropvolgende twee jaar.

Die familie en weduwees van die 34 werkers wat op 16 Augustus 2012 in Marikana doodgeskiet is, sal langer moet wag op uitsluitsel in die saak. Die polisiewaghond, die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat, se ondersoek is nog nie voltooi nie. OPOD en die Nasionale Vervolgingsgesag beskuldig mekaar daarvan dat 72 polisiebeamptes, wat by die skietery betrek word, nog nie vervolg is nie. Dit is vandag die sesde herdenking van die mynwerkers se dood. Nog 10 mense is in aanloop tot die skietery op 16 Augustus dood. `n Woordvoerder van OPOD, Moses Dlamini, sê hul ondersoek is afgehandel en die dossiere is verlede jaar onderskeidelik in Maart, April en Augustus aan die NVG oorhandig vir ‘n besluit oor vervolging.

Die 45-jarige Martin Visser van Lutzville aan die Wes-Kus wat gister lewenslange tronkstraf in die Rondgaande Hof op Vredendal opgelê is, gaan na verwagting vandag aansoek doen om teen sy skuldigbevinding en vonnis te appelleer. Visser, wat ‘n vorige opgeskorte vonnis het, is tronk toe gestuur vir die moord op ‘n plaaswerker, die 32-jarige Adam Pieterse, drie jaar gelede. Pieterse het op ‘n buurplaas gewerk. Visser is ook `n verdere drie-en-halfjaar tronkstraf opgelê op twee aanklagte van aanranding. Die Nasionale Vervolgingsgesag het vroeër sy vonnis verwelkom.

Die Polisie het drie verdagtes aangekeer en whiskey van bykans drie miljoen rand in Vereeniging teruggevind. Ses verdagtes met twee voertuie, wat met blou ligte toegerus is, het `n vragmotor met kaste whiskey in Johannesburg voorgekeer en gekaap. Hulle het die bestuurder `n paar kilometer verder afgelaai. Die polisie beskou dit as `n deurbraak in die ondersoek na kapings, veral in Johannesburg. Die soektog na die ander drie verdagtes duur voort.

Minstens 23 mense is dood toe `n boot met 40 mense in Soedan omgeslaan het. Volgens berigte was die meeste van die slagoffers skoolkinders. Die boot het die Nylrivier naby Kabna oorgesteek toe die boot se enjin onklaar geraak, en dit teen boomstompe vasgevaar het. Sommige van die kinders het paniekerig geraak wat daartoe gelei het dat die boot omgeslaan het.

Die weer

Temperature vir vandag vir die hoof Sentra in die land soos deur die Suid-Afrikaanse Weerburo

Warmbad – sonnig, gedeeltelik bewolk en baie warm

Min 15 Max 31

Nelspruit – Sonnig en effens bewolk, maar warm

Min 13 Max 28

Pretoria – Sonnig en warm met ‘n

Min   13 Max   28

Johannesburg – Effens bewolk en warm

Min 11 Max 26

Vereeniging – Meestal sonnig en baie warm

Min 11 Max 28

Rustenburg – Sonnig en baie warm

Min 14 Max 32

Bloemfontein – ‘n Aangename dag maar baie koud, warmer later in die dag

Min 0 Max 25

Kimberley – Aavanklik koud maar sonnig en warm later in die dag

Min 4 Max 27

Durban – Gedeeltelik bewolk en matig

Min   17   Max 22

Oos London – Sonnig maar effens bewolk

Min 11   Max 22

Upington – Sonnig en matig tot warm later in die dag

Min 3 Max 25

Kaapstad – Bewolk met reen plek plek in die namiddag

Min 8 Max 15

Port Elizabeth – Sonnig en matig maar effens bewolk

Min 10   Max 22

En laastens

Sutherland – Sonnig maar koud en effens bewolk en winderig in die namiddag

Min 0  Max 13


 

Leave a Reply