You are currently viewing Potgooi – Nuus en Weer 20 Augustus 2018

Potgooi – Nuus en Weer 20 Augustus 2018

Anngebied deur Yolanda weeksdae om 9:30 (CAT)

Klik HIER om weer te luister

https://archive.org/details/yol2018-08-20.092925

Kennisgewing

  1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berig skrywer.
  3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda

Die Nuus word aangebied in samewerking tussen Netradiosa & FM stereo & FM Live Gospel active

Nuus

Die nuwe voorsitter van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, die Namibiese president Hage Geingob, het lande in Afrika gestriem omdat hulle op die buiteland staatmaak vir hulp, veral Westerse lande. Geingob het die kritiek uitgespreek op die 38ste beraad van SAOG-regeringshoofde in Windhoek. Die Afrika-unie ervaar voortdurende geldprobleme omdat lidlande nie genoeg tot die unie bydra nie. Geingob sê dit is ‘n skande dat lidlande Westerse lande vir geld vra om die AU te befonds. Hy sê Afrikalande behoort die AU sélf te finansier.

Adjunk-president David Mabuza het godsdiensleiers gevra om hul gebede vir Suid-Afrika voort te sit. Mabuza het godsdiensleiers tydens die herdenking van die Nasionale Dag van Gebed *gister in die Ellispark-stadion in Johannesburg bedank vir hul gebede vir die land en sy leiers.

Die minister van Water en Sanitasie, Gugile Nkwinti, sê planne is gereed om water uit die Nooitgedachtdam aan die Nelson Mandela-metro en die Kouga-munisipaliteit in die droogtegeteisterde Oos-Kaap te voorsien, in plaas van uit die Kougadam. Dit sal volgens Nkwinti verligting bring vir die waterkrisis. Nkwinti het in Uitenhage gesê die Kougadam het tans minder as sewe persent water en kan binne die volgende drie maande opdroog.

ATLETIEK:: Suid-Afrika se verspringatleet Luvo Mayonga het tydens die Diamantliga-byeenkoms in Birmingham in Brittanje vir ‘n Diamantliga-rekord gesorg met ‘n sprong van agt-komma-vyf-drie meter. Dié afstand is bykans veertig sentimeter verder as die sprong van die atleet in die tweede plek. Tajay Gayle van Jamaika, met agt-komma-een-sewe. Nog ‘n Suid-Afrikaner, Zarck Visser, was vierde met sewe-komma-nege meter. Caster Semenya, wat aan die duisend-500 meter vir vroue sou deelneem, het vroeër aan die byeenkoms onttrek nadat sy vroeër die maand bevestig het dat sy gaan deelneem. Nuusagentskappe het Vrydag nog berig dat sy wel gister op die baan te sien sal wees. Dit is nie bekend waarom sy haar onttrek het nie.

Agri S.A sê hy is baie bekommerd oor die ANC-voorsitter, Gwede Mantashe se onlangse kommentaar oor die beperking op grondeienaarskap. Mantashe het gesê plase moet tot 12-duisend hektaar beperk word. Die president van Agri S.A, Dan Kriek het vroeër in ‘n verklaring gesê dié voorstel is ondeurdag. Kriek sê die benadering druis in teen gevestigde landboubeginsels siende dat bedrywe en boerderypraktyke in terme van grondgebruik verskil. Verskillende gewasse of diere vereis verskillende grootte plase om finansieel volhoubaar te wees. Intussen word berig dat Mantashe nou teruggekrabbel het en sê hy glo bloot daar moet ‘n perk wees, maar is nie verbind tot die 12-duisend hektaar nie.

Volgens die jongste Ipsos meningspeiling meen Suid-Afrikaners dat president Cyril Ramaphosa meer beslissend moet optree. Die marknavorsingsmaatskappy het die peiling in Mei en Junie vanjaar gedoen. Ramaphosa geniet wye steun in al die sektore van die samelewing. Die peiling het ook bevind dat 54 persent van Suid-Afrikaners dink die toekoms van die ANC is onseker weens voorslepende interne geskille, en dat Ramaphosa die enigste een is wat die situasie kan verander.

Drie mense is dood en nog vier is beseer in ‘n padongeluk op die N-7 buite Kaapstad. Een van die beseerdes is in ‘n kritieke toestand. Die voertuig het blykbaar in die vroeë oggendure naby Philadelphia teen ‘n padversperring gebots. Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie.

Die DA het baie tyd afgestaan aan die kwessie van ‘n nuwe burgemeester vir Kaapstad tydens die naweek se vergadering van die party se federale uitvoerende raad. Die vergadering was die eerste van die party se leiers sedert hulle skikking met Patricia de Lille ingevolge waarvan alle aanklagte teen haar laat vaar is en sy as burgemeester bedank het. Die party se woordvoerder, Solly Malatsi, sê benoemings vir ‘n nuwe burgemeester kan van *môre af ingedien word. Hy sê hulle sal onderhoude met die kandidate voer sodat hulle teen die einde van September ‘n burgemeesterskandidaat kan aanwys.

Die DA maak na verwagting ook vandag sy kandidaat vir die premierskap in Gauteng bekend. Nege kandidate is op die kortlys vir die pos van premier, onder wie die burgemeester van die Tshwane-metro, Solly Msimanga, twee lede van die Gautengse wetgewer, Makashule Gana en Ghaleb Cachalia, en die nasionale woordvoerder Refiloe Nt’sheke. Die DA wil alles in die stryd werp om Gauteng, die kern van Suid-Afrika se ekonomiese bedrywighede, in die 2019-verkiesing oor te neem.

Vlae sal vir drie dae lank halfstok hang by die Verenigde Nasies se hoofkantoor in New York en al sy kantore wêreldwyd ná die dood van die voormalige sekretaris-generaal, Kofi Annan. Annan is gister in Bern in Switserland oorlede. Hy was 80. Annan het vir twee termyne as VN-sekretaris-generaal gedien, en was ook ‘n ontvanger van die Nobelprys vir Vrede.

Weerkundiges in Indië voorspel nóg swaar reën oor die vloedgeteisterde Kerala-staat. Driehonderd sewe en vyftig mense is reeds weens oorstromings in die gebied dood. Volgens berigte het al veertig riviere en die talle spruite wat kruis en dwars oor die staat vloei, hulle oewers oorstroom. Talle plekke is van die buitewêreld afgesny. Helikopters en bote word ingespan om mense na veiligheid te neem. Indië se premier, Narenda Modi, het 70-miljoen dollar vir hulpverlening aan die staat goedgekeur.

Nóg ‘n aardbewing het die eiland Lombok in Indonesië getref. Die jongste skudding het ses komma drie op seismiese intrumente gemeet. Dit is sowat drie weke na die vorige aardbewing waarin 430 mense dood is. Die jongste aardbewing het op ‘n diepte van sewe kilometer plaasgevind. Besonderhede oor skade of sterftes is nog nie bekend nie.

Rugbynuus…. Die Springbokafrigter, Rassie Erasmus sê hoewel sy span die wedstryd grootliks oorheers het, het hulle nie hulle beste vertoning gelewer nie. Die Springbokke het die Poemas van Argentinië in Durban met 34 –21 geklop, met Argentinië wat rustyd 14–10 voorgeloop het. Erasmus sê die eerste sowat 30 minute van die tweede helfte het die beste spel opgelewer. Die losskakel Handre Pollard het gister nie sy skopskoen aangehad nie, maar ses drieë, waarvan vier in die tweede helfte was, het aan die Springbokke die oorwinning besorg. Die Springbokke kom aanstaande Saterdag in Mendoza weer teen die Poemas te staan. In die ander wedstryd in die Rugbykampioenskapsreeks het die All Blacks die Wallabies met 38–13 geklop.

Die Kaapstadse metroraad het ‘n sakeplan by die nasionale departement van Vervoer ingedien vir die oorname van treindienste in die stad. Die DA se Federale Raad sê die nasionale departement beplan om die beheer van spoorpendeldienste aan munisipaliteite oor te dra, maar dit kan nog drie jaar neem om in werking te tree. Die DA sê die proses moet versnel word omdat pendelaars in Kaapstad erg geraak word deur treindienste wat ontwrig word.

 

Die president van die ANC, Cyril Ramaphosa, en lede van die party se Nasionale Uitvoerende Komitee is in Rustenburg vir beraadslaging met takke in die Bojanala-streek. Die streek word lamgelê deur binnegevegte en faksies, en het nog nie sy verkiesingskonferensie gehou nie.

Die ontbinde liggaam van ‘n man is op ‘n strand by Richardsbaai op die KwaZulu-Natalse noordkus gekry wat vermoedelik dié is van ‘n vermiste werknemer van die provinsie se Haaieraad. Die man het vermis geraak nadat ‘n boot wat haainette nagegaan het, omgeslaan het in rowwe see meer as ‘n week gelede. Twee van die vyf mense op die boot het verdrink. ‘n Woordvoerder van die KwaZulu-Natalse polisie, Nqobile Gwala, sê DNA-toetse sal uitgevoer word om die identiteit van die oorledene te bevestig.

‘n Nuwe substasie van 114 miljoen rand is ingebruik geneem by Atlantis op die Weskus, wat elektrisiteitsopwekking in die gebied sal verhoog. ‘n Lid van die Kaapstadse burgemeesterkomitee vir informele woonbuurte, Xanthea Limberg, sê die substasie, wat gebou is oor ‘n tydperk van vier jaar, sal ekonomiese groei in die gebied aanmoedig en werksgeleenthede uitbrei. Linberg sê die bykomende kapasiteit kan krag voorsien aan tien miljoen gloeilampe. Sy sê die nuwe substasie sal ook ‘n aansluitingspunt op die netwerk skep vir toekomstige onafhanklike kragvoorsieners, wat ooreenkomstig die stad se planne is om ‘n energieaanbod te skep wat hernubare energie insluit.

Die DA sê die EFF se planne om die Reserwebank te nasionaliseer is een van dié party se lang lys van politieke slenters om die mandaat en bedryf van die Reserwebank te beïnvloed, en uiteindelik die bankstelsel in sy geheel. ‘n DA-lid van die parlement se komitee oor Finansies, Gwen Ngwenya, het in ‘n verklaring gesê dit is ook ‘n verkiesingspel vir die EFF. Sy sê dié party wil homself vestig as die outentieke linkse party en wil die ANC se radikale agenda oortref. Ngwenya sê die Wysigingswetsontwerp oor die Reserwebank wat die EFF ingedien het, is roekeloos. Die EFF-leier, Julius Malema, het Donderdag die privaatledewetsontwerp ingedien oor die nasionalisering van die Reserwebank. Die DA sê hy sal alle pogings teenstaan wat daarop gemik is om die onafhanklikheid van die Reserwebank in die gedrang te bring.

Die departement van Gemeenskapsveiligheid en Skakeling in Mpumalanga het ‘n beroep op die inwoners van Kanyamazane buite Mbombela gedoen om nie vanaand die paaie te versper nie. Boodskappe doen blykbaar die rondte op sosiale media dat inwoners beplan om die gebied tot stilstand te dwing. Verlede week het gewelddadige betogings in die gebied uitgebreek. Klasse en openbare vervoer is ontwrig en inwoners eis dat hulle huise wat vroeër vanjaar in ‘n haelstorm beskadig is, herstel word. Die LUR, Pat Ngomane, sê die regering wil met die betogers in gesprek te tree.

Die polisie sê 15 mense is die afgelope week deur die gesamentlike teenstropingtaakspan in Mpumalanga in hegtenis geneem in verband met renosterstropery. Beslag is ook gelê op vier ongelisensieerde wapens, sowel as ammunisie. Die verdagtes het intussen in die hof verskyn op aanklagte wat wissel van aanranding en ontvoering tot die besit van gesteelde goedere. In die tydperk tussen Januarie en Junie vanjaar is 365 verdagtes in hegtenis geneem, waarvan 165 nog in aanhouding is hangende hul hofsake. Ses verdagtes is na hulle lande van herkoms gedeporteer, elf is beboet en 57 dien vonnisse uit. Die polisie sê taakspan gaan voort met hul werksaamhede om renosterstropery uit te roei.

Die DA in die Dihlabeng-munisipaliteit in Bethlehem in die Oos-Vrystaat het ‘n mosie van wantroue ingedien teen die Speaker, David Lengoabala. ‘n DA-raadslid, Roger Nhlapo, sê die munisipaliteit is in finansiële moeilikheid en lewer nie dienste nie. Nhlapo sê die burgemeester en die speaker wil oorsee gaan, maar daar is nie geld nie. Hy sê dit gaan sleg by die munisipaliteit.

‘n Nuwe substasie van 114 miljoen rand is ingebruik geneem by Atlantis op die Weskus, wat elektrisiteitsopwekking in die gebied sal verhoog. ‘n Lid van die Kaapstadse burgemeesterkomitee vir informele woonbuurte, Xanthea Limberg, sê die substasie, wat gebou is oor ‘n tydperk van vier jaar, sal ekonomiese groei in die gebied aanmoedig en werksgeleenthede uitbrei. Linberg sê die bykomende kapasiteit kan krag voorsien aan tien miljoen gloeilampe. Sy sê die nuwe substasie sal ook ‘n aansluitingspunt op die netwerk skep vir toekomstige onafhanklike kragvoorsieners, wat ooreenkomstig die stad se planne is om ‘n energieaanbod te skep wat hernubare energie insluit.

Die polisie sê 15 mense is die afgelope week deur die gesamentlike teenstropingtaakspan in Mpumalanga in hegtenis geneem in verband met renosterstropery. Beslag is ook gelê op vier ongelisensieerde wapens, sowel as ammunisie. Die verdagtes het intussen in die hof verskyn op aanklagte wat wissel van aanranding en ontvoering tot die besit van gesteelde goedere. In die tydperk tussen Januarie en Junie vanjaar is 365 verdagtes in hegtenis geneem, waarvan 165 nog in aanhouding is hangende hul hofsake. Ses verdagtes is na hulle lande van herkoms gedeporteer, elf is beboet en 57 dien vonnisse uit.

‘n Vermeende rower is aangekeer na ‘n skietery met die polisie nadat ‘n onderneming vroeër beroof is by die Kanako Mall-winkelsentrum in Port Elizabeth. Vyf gewapende persone het ‘n winkel in die inkopiesentrum binnegegaan en kontant geëis. Hulle het met die winkeleienaar se bakkie, ‘n onbekende bedrag kontant en ook twee veiligheidskameras van die winkel gevlug. ‘n Polisiewoordvoerder, André Beetge, sê die wegkommotor het die bakkie gevolg na die Kwazakhele-woonbuurt, waar hulle deur die polisie opgemerk is. ‘n Skietery het ontstaan en die bestuurder, wat ook die eienaar is van die motor, is aangekeer. Hy sal na verwagting môre in die New Brighton-landdroshof verskyn. Die ander vier vermeende rowers het op vlug geslaan. Die bakkie is later verlate gevind.

‘n Tsoenami-waarskuwing is uitgereik na die jongste aardbewing van sewe-komma-twee in die see 124 kilometer noordoos van die Indonesiese eiland, Lombok. Die aardbewing volg op ‘n skudding vroeër vandag wat ses komma drie op seismiese intrumente gemeet het. Meer as 480 mense is dood en duisende beseer tydens skuddings op die vakansie-eiland. Meer as 350-duisend mense is sonder heenkome gelaat. Besonderhede oor skade of sterftes na die jongste aardbewings is nog nie bekend nie.

 

Weer

Temperature vir vandag vir die hoof Sentra in die land soos deur die Suid Afrikaanse Weerburo

Warmbad – mooiweer tot warm

Min 17   Max 28

Nelspruit – mooiweer tot baie warm

Min 16   Max 32

Pretoria – mooiweer tot warm

Min 19   Max 28

Johannesburg – ‘n Sonnige dag met matige temperatuur

Min 16 Max 24

Vereeniging –  mooiweer tot warm

Min 16 Max 27

Rustenburg – sonnig en warm

Min 15   Max 27

Bloemfontein – sonnig en matige temperatuure

Min 12    Max 25

Kimberley – mooiweer tot watm

Min 15 Max 28

Durban –   mooiweer tot warm

Min 18   Max 23

Oos London – bewolk met motreen plek plek

Min 16   Max 19

Upington – mooiweer en matig tot warm

Min 13 Max 24

Kaapstad – bewolk en koud met ligte reen plek plek

8 Max 14

Port Elizabeth – gedeeltelik bewolk en koud

Min 14   Max 17

En laastens

Sutherland – ysige koue dag met mot reen

Min 0 Max 8


Leave a Reply