Weeksdae Aangebied deur Yolanda om 9:30
Klik HIER om weer te luister
https://archive.org/details/yol2018-08-31.092855
Kennisgewing
1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie. 2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berig skrywer. 3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda Die Nuus word aangebied in samewerking tussen Netradiosa & FM stereo & FM Live Gospel Active
Nuus Hooftrekke
Die burgemeester van die Tshwane Metro, Solly Msimanga, bly in die amp aan nadat die ANC sy mosie van wantroue in hom teruggetrek het. Dit is een van twee wantrouemosies wat vandag ter tafel gelê sou word. Die ANC het ontevredenheid uitgespreek oor die speaker, Katlego Mathebe se besluit om nie die EFF se mosie van wnatroue toe te laat nie omdat dit nie aan die reëls voldoen het nie. Die EFF het na die beslissing uit die raadsvergadering gestap en gesê hy oorweeg nou regstappe teen die speaker. Die EFF het ook aangekondig dat hy nie die ANC se mosie sou steun nie. Sonder die steun van die EFF sou die ANC na verwagting nie genoeg stemme gehad het vir die mosie om te slaag nie.
Adjunkpresident David Mabuza het homself in die Nasionale Vergadering verdedig na ‘n artikel in die Amerikaanse koerant, The New York Times, wat hom van ernstige korrupsie beskuldig terwyl hy premier van Mpumalanga was. Mabuza beantwoord vrae in die Nasionale Vergadering. Hy het gereageer op ‘n vraag van die DA-parlementslid, John Steenhuisen, oor hoe hy Nelson Mandela se nalatenskap kan bewaar terwyl hy self by korrupsie betrokke was. Mabuza sê egter hy het ‘n beduidende bydrae gelewer tot die ontwikkeling van skole in die provinsie.
Die Parlement sê die korrekte prosedure is gevolg met die aanstelling van die diensverskaffer wat die geskrewe voorleggings namens die Grondwethersieningskomitee oor die onteiening van grond sonder vergoeding verwerk. Die EFF het verlede week die aanstelling van die maatskappy bevraagteken nadat bekendgemaak is dat 59 persent van geskrewe voorleggings téén die wysiging van die grondwet is. Die EFF het die maatskappy daarvan beskuldig dat hy ‘n sekere politieke agenda bevorder en buite sy streng mandaat optree. Die sekretaris van die Nasionale Vergadering, Masibulele Xaso, het aan die Nasionale Vergadering se programkomitee gesê die aanstelling is in orde.
Openbare sittings gegrond op geskrewe voorleggings oor die onteiening van grond sonder vergoeding begin intussen aanstaande Dinsdag in die Parlement. Die medevoorsitter van die Grondwethersieningskommissie, Vincent Smith, sê bykans 30 mense is geïdentifiseer om namens verskillende belangegroepe vanaf Dinsdag tot Vrydag mondelinge voorleggings te doen. Dit sluit verteenwoordigers in van Black First Land First, Agri-Sake, Agri-SA, die banksektor en die Nasionale Huis van Tradisionele Leiers. Smith sê die groep het geskrewe voorleggings ingedien, maar aangedui dat hulle ook mondelinge voorleggings wil doen tydens die openbare sitting. Hy sê hy glo die komitee kan sy spertyd haal om die finale verslag teen die einde van September aan die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies voor te lê.
Die liggaam van ‘n meisie wat vermoedelik die vermiste negejarige, Privilege Mavongwe is, is by ‘n stortingsterrein in Bloekombos naby Kraaifontein buite Kaapstad gevind. Die polisie het vroeër aangedui dat hulle die saak ondersoek. Mavongwe is Dinsdag laas naby haar huis gesien. ‘n Polisiewoordvoerder, Noloyiso Rwexana sê kundiges van die polisie en die Kraaifontein ondersoekspan is op die toneel om na leidrade te soek.
Die Ekurhuleni Metro is besig met klopjagte op spaza-winkels in Reigerpark en Ramaphosa wat produkte verkoop wat reeds verval het. Die burgemeester van Ekurhuleni, Mzwandile Masina, die metropolisie, omgewingsgesondheidinspekteurs en immigrasiebeamptes neem aan die klopjagte deel. Hulle kyk ook of die winkeleienaars bedryfslisensies en werkspermitte het. Meer as 20 mense is ook in hegtenis geneem vir die besit van onwettige sigarette, vervalste werkpermitte en bedryfslisensies en die verkoop van nagemaakte produkte.
Die voormalige hoof van die regering se kommunikasie- en inligtingsdiens, Thembo Maseko, het aan die Kommissie van Ondersoek na Staatskaping gesê hy het deur die media uitgevind dat hy afgedank is. Hy sê dit het gevolg nadat hy geweier het om opdrag te gee dat regeringsdepartemente advertensies plaas in die Gupta-familie se koerant, The New Age. Ajay Gupta het vroeër aan Maseko gesê dat hy uit sy pos verwyder sal word en vervang sal word met iemand met wie die Gupta-familie kan saamwerk.
Die selfoonmaatskappy, MTN, se aandeelprys het tot die laagste vlak in nege jaar geval. Dit volg na ‘n opdrag van Nigerië dat MTN en sy bankiers agt-komma-een miljard dollar moet terugbring wat hulle na bewering onwettig uit die land geneem het. Die aandeelprys het vanoggend met meer as 20 persent gedaal. Die bewerings is die jongste terugslag vir MTN in Nigerië, sy winsgewendste mark, en kom minder as twee jaar nadat die maatskappy ingestem het om ‘n boete van een-komma-drie miljard dollar te betaal na ‘n uitgerekte geskil oor ongeregistreerde sim-kaarte.
Nog ANC-komiteelede en -voorsitters sal na verwagting binne die volgende paar weke herontplooi word. Dit is volgens die kantoor van die hoofsweep in die Parlement, Jackson Mtehmbu. Die ANC-parlementslede Mathole Motshekga en Vincent Smith is gister omgeruil. Smith het Motshekga vervang as die voorsitter van die Portefeuljekomitee oor Justisie en Korrektiewe Dienste, terwyl Motshekga by Smith oorneem as die mede-voorsitter van die Staande Komitee oor Finansiële Bestuur in die Parlement. Die ANC se woordvoerder in die Parlement, Nonceba Mhlauli, sê die herontplooiing van ANC-lede en -voorsitters vorm deel van die party se hersiening van alle komitees en daar sal waarskynlik nog veranderinge aangebring word.
Die Konstitusionele Hof het beslis dat die voormalige Minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Bathabile Dlamini, nie die regskostes moet betaal vir die aansoek in Maart vanjaar om die kontrak met Cash Paymaster Services te verleng nie. Die hof het in Maart uitspraak voorbehou oor of Dlamini persoonlik vir die regskostes aanspreeklik gehou moet word. Die agentskap vir maatskaplike sekerheid, of Sassa, en sy voormalige waarnemende bestuurshoof, Pearl Bhengu, sal wel die kostes moet betaal. Regter Leona Theron het in die Konstitusionele Hof gesê Dlamini het verkeerd opgetree het deur die Sassa-krisis na ‘n interministeriële komitee te verwys, aangesien dit steeds haar plig was om leiding te gee. Theron sê egter dit is nie voldoende om te bevind dat Dlamini se rol in die Sassa-sage neerkom op nalatigheid of dat sy in kwade trou opgetree het nie.
Die voormalige hoof van die regering se kommunikasie- en inligtingsdiens, Themba Maseko, het by die Staatskapingondersoek in Johannesburg getuig dat Ajay Gupta hom tydens hul vergadering in Saxonwold opdrag gegee het om sy hele kommunikasiebegroting toe te wys aan The New Age-koerant. Maseko het vanoggend sy getuienis in Parktown, Johannesburg voortgesit. Hy sê hy het aan Gupta gesê hy het nie die mag om dit te doen nie en dat die begroting van 600 miljoen rand deur verskillende staatsdepartemente gedeel word. Maseko sê Gupta het aggressief geraak en aan hom gesê dit is ‘n opdrag.
Die Tshwane-metro in Pretoria se raadsvergadering het ‘n rukkie gelede begin waar twee wantrouemosies vandag teen die DA-burgemeester, Solly Msimanga, ingestel gaan word. Die DA in Gauteng het vroeër vanoggend ter ondersteuning van Msimanga by die Sammy Marksplein saamgetrek. Die ANC en EFF wil met hul afsonderlike mosies van Msimanga ontslae raak oor beweerde korrupsie met ‘n projekbestuurskontrak. Die DA en Msimanga het dit ontken en sê die DA het twee jaar gelede ‘n bankrot munisipaliteit by die ANC oorgeneem.
Die departement van Vervoer gaan ‘n aanlyn-besprekingsdiens loods vir rybewyse en ander dienste. Die stelsel sal eerste in Gauteng beskikbaar wees. Die aanlyndienste behels aansoeke vir rybewyse en leerlinglisensies, verbeterde dienslewering en om korrupsie te bestry. ‘n Woordvoerder van die Padvervoerbestuurskorporasie, Simon Zwane, sê aanlynbesprekings sal tot korter toue by toetssentrums lei. Zwane sê mense sal ook nie afhanklik wees van amptenare om besprekings te maak, wat die moontlikheid van omkoopgeld en korrupsie uitskakel.
Die dodetal in vanoggend se busongeluk naby Beaufort-Wes in die Karoo het van agt tot tien gestyg. Die Wes-Kaapse Verkeershoof, Kenny Africa sê ‘n passasier is in die hospitaal oorlede en nog ‘n passasier het op die ongelukstoneel gesterf. Minstens nog 30 mense is beseer toe die busbestuurder vermoedelik beheer oor die bus verloor het. Die bus was van Kaapstad na die Oos-Kaap onderweg. Die pad is oop vir verkeer, hoewel opruimingswerk steeds plaasvind. Die vakbond – die N.U.M – het bevestig dat werknemers wat betrokke was by die uitgerekte staking by Eskom, nie afgedank sal word nie. Dit is egter steeds onduidelik of daar tugstappe teen hulle gaan wees.
Die N.U.M en Numsa het vroeër aangekondig dat hulle vroeg vanoggend ‘n salarisooreenkoms met Eskom beklink het. Die drie jaar lange ooreenkoms behels ‘n verhoging van 7-komma-5-persent vir die eerste jaar en 7-persent vir die daaropvolgende twee jaar. Personeel in die bedingingsforum sal ook ‘n eenmalige betaling van 10-duisend rand kry. Die N.U.M sê samesprekings met die bestuur duur voort, maar hulle kan wel bevestig dat daar nie afdankings oor die arbeidsoptrede sal wees nie.
Die Moses Mabhida-streekskonferensie in KwaZulu-Natal wat vandag gehou sou word, is afgelas. Die party se provinsiale leierskap het besluit om die konferensie uit te stel nadat regsverteenwoordigers van ontevrede lede aansoek gedoen het om ‘n hofbevel om die konferensie te keer. Net die Harry Gwala-streekskonferensie in die suide van KwaZulu-Natal sal vandag plaasvind. Die ontevrede ANC-lede sê hulle is lede van die party se streekstaakspan wat ontstaan het ná die ontbinding van die streeksleierskap. Hulle beweer hulle verteenwoordig die meerderheid van takke. Hulle sê in hofstukke die korrekte prosedures in aanloop tot die konferensie is nie gevolg nie en hulle het ook nie geouditeerde lidmaatskapsyfers ontvang nie. Die twee mans wat beskuldig word van die moord op die ANC-aktivis, Bongani Mkhize, sal na verwagting weer vandag in die Umlazi-landdroshof, suid van Durban, verskyn. Die twee beskuldiges, Mfanafuthi en Andile Zulu, het tydens hul vorige hofverskyning hul aansoek om borgtog laat vaar. Mkhize, wat die voorsitter van die ANC-jeugliga was by die Coastal College, is doodgeskiet op pad terug van die ANC se provinsiale verkiesingskonferensie. Die mans word aangekla van moord en die onwettige besit van ‘n vuurwapen. Mkhize het na bewering die beskuldiges 500 rand geskuld.
TENNIS: Die vyfde gekeurde Kevin Anderson van Suid-Afrika is deur na die derde ronde van die Amerikaanse Ope by Flushing Meadows in New York. Anderson het die Fransman, Jeremy Chardy, is skoon stelle geklop. Anderson kom in die volgende ronde teen die 22ste gekeurde Denis Shapovalov van Kanada te staan. Dit sal hulle eerste wedstryd wees. In die vroue-toernooi, gaan die Williams-susters in die derde ronde vir die 30ste keer kragte meet. Venus het vroeër Camila Giorgi van Italië in skoon stelle geklop, terwyl Serena Duitsland se Carina Witthoeft uitgeskakel het.
Die vakbond – die N.U.M – het bevestig dat werknemers wat betrokke was by die uitgerekte staking by Eskom, nie afgedank sal word nie. Dit is egter steeds onduidelik of daar tugstappe teen hulle gaan wees. Die N.U.M en Numsa het vroeër aangekondig dat hulle vroeg vanoggend ‘n salarisooreenkoms met Eskom beklink het. Die drie jaar lange ooreenkoms behels ‘n verhoging van 7-komma-5-persent vir die eerste jaar en 7-persent vir die daaropvolgende twee jaar. Personeel in die bedingingsforum sal ook ‘n eenmalige betaling van 10-duisend rand kry. Die N.U.M sê samesprekings met die bestuur duur voort, maar hulle kan wel bevestig dat daar nie afdankings oor die arbeidsoptrede sal wees nie.
Die Britse vervaardiger van luukse motors, Aston Martin, beplan ‘n notering op die Londense Aandelebeurs. Ontleders beraam dat Aston Martin teen meer as ses miljard dollar gewaardeer kan word. Dit is ‘n groot stap vir een van die bekendste Britse motormaatskappye wat met vervaardigers soos Ferrari en Lamborgini meeding. Aston Martin het gesukkel om te oorleef, maar na grootskaalse herstruktuering en die bekendstelling van ‘n aantal nuwe modelle is die maatskappy weer op die winspad. Beleggers van Koeweit en Italië wat die maatskappy beheer, wil nou hulle belang verkoop en aan gewone beleggers die kans bied om ‘n aandeel te verkry in die maatskappy wat al vir meer as 50 jaar James Bond se motors vervaardig.
Drie vakbonde het ‘n dispuut verklaar nadat salarisonderhandelinge in die goudmynsektor op ‘n dooiepunt uitgeloop het. Solidariteit, Amcu en Uasa sê die volgende stap is ‘n staking. Hulle sê die loononderhandelinge met Harmony Gold en die kleiner produsent, Village Main Reef, het ‘n dooiepunt bereik, maar hulle onderhandel steeds met AngloGold Ashanti en Sibanye-Stilwater. Die vier maatskappye betrokke by die onderhandelinge het verskillende aanbiedings op die tafel geplaas, wat wissel van ‘n verhoging van tot sewe-komma-twee persent vir ondergrondse werkers en tot vier-komma-vyf persent vir mynwerkers en ambagsmanne.
Die herbenaming van die Universiteit Stellenbosch se teaterkompleks op die kampus, na die digter en dramaturg Adam Small, sal later vanjaar by ‘n amptelike seremonie plaasvind. Die teaterkompleks is na Small hernoem omdat hy die Universiteit se waardes vergestalt. Small is in 2016 op 79-jarige ouderdom oorlede. Die viserektor vir Transformasie, professor Nico Koopman sê Small het mense geleer wat menswaardigheid beteken.
Die waarnemende polisiekommissaris, luitenant-generaal, Lebeoana Tsumane, het die Gautengse polisie geloof vir die inhegtenisneming van 27 mense na grootskaalse plundery en geweld in dele van Soweto. Inwoners het buitelanders se winkels in White City geplunder hoofsaaklik weens produkte op rakke waarvan die vervaldatum reeds verstryk het. Tsumane het die voorvalle van wetteloosheid, waartydens twee mense dood en een gewond is, skerp gekritseer. Hy sê die spoedige reaksie van die polisie en ontplooiing van meer beamptes het die situasie gestabiliseer. Die verdagtes is aangekeer op aanklagte van moord, poging tot moord, die onwettige besit van vuurwapens en openbare geweld. Tsuname het ‘n beroep op die gemeenskap en gemeenskapsleiers gedoen om met die polisie saam te werk om misdaad en wetteloosheid te beveg.
Die adjunkminister van Polisie, Bongani Mkongi, sê hy het samesprekings gevoer met die stasiebevelvoerder by die Soshanguve-polisiestasie oor die dood van ‘n student van die Tshwane Universiteit van Tegnologie in Pretoria. Katlego Monareng is verlede week doodgeskiet tydens ‘n betoging weens ontevredenheid oor beweerde knoeiery met die studenteraadsverkiesing. Mkongi het onderneem om op te tree teen polisielede wat skerppunt-ammunisie gebruik het om studentebetogers uiteen te jaag. Die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat ondersoek die voorval.
Weer
Temperature vir vandag vir die hoof Sentra in die land soos deur die Suid Afrikaanse Weerburo
Warmbad – Mooi weer & baie warm Min 13 Max 27
Nelspruit – Mooi weer & warm Min 14 Max 28
Pretoria – Sonnige dag Min 16 Max 25
Johannesburg – Mooi weer & warm Min 15 Max 23
Vereeniging – Gedeeltelik bewolk & warm Min 14 Max 25
Rustenburg – Gedeeltelik bewolk & warm Min 13 Max 26
Bloemfontein – Mooi weer & warm Min 14 Max 26
Kimberley – Sonnige dag Min 17 Max 29
Durban – Mooi weer & warm Min 21 Max 27
Oos London – Bewolk & warm met motreën plek plek Min 10 Max 31
Upington – Mooi weer & baie warm Min 15 Max 32
Kaapstad – Mistig in die oggend en matig warmer in die namiddag Min 14 Max 18
Port Elizabeth – Mooi weer & matig warm Min 12 Max 19
En laastens
Sutherland – Sonnige dag Min 7 Max 17