You are currently viewing Potgooi-Nuus & Weer 9:30  4 September 2018  Dinsdag

Potgooi-Nuus & Weer 9:30 4 September 2018 Dinsdag

Aangebied deur Yolanda weeksdae om 9:30vm.

Klik HIER om weer te luister

Kennisgewing

  1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berig skrywer.
  3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda

Die programme word aangebied in samewerking tussen Netradiosa & FM stereo

 

Nuus

Agt mense is dood in ‘n ontploffing by Denel se wapenfabriek in Somerset-Wes. Die woordvoerder van die Kaapstadse Brand- en Reddingsdienste, Theo Layne sê nog mense word nog vermis. Hy sê brandbestryders is besig met ‘n soek- en reddingsoperasie. Hy sê verskeie brandweerwaens en brandbestyders is op die toneel, nadat personeel vroeër reeds begin het om die brand te blus wat op die ontploffing gevolg het. Layne sê die oorsaak van die ontploffing is nog nie bekend nie. Die fabriek vervaardig ammunisie vir swaar wapentuig.

Metrorail het onderneem om sy samewerking te gee vir die Openbare Beskermer se ondersoek na bewerings van wanadministrasie by die spooragentskap. Die voorsitter van die staande komitee oor Vervoer in die Wes-Kaap, Nceba Hinana, het die OB verlede maand versoek om ondersoek in te stel na Metrorail se bates, geldsake en werksaamhede. Hinana sê treine van Metrorail is gereeld aan die brand gesteek en niemand is daarvoor aanspreeklik gehou nie. Hy beweer ook dat Metrorail uiters swak bestuur is. ‘n Woordvoerder van Metrorail, Riana Scott, sê enige ondersoek is welkom.

 

Lede van die vakbond Solidariteit sê die sloerstaking by Sasol sal Donderdag ‘n volskaalse staking word. Die vakbond het met die staking begin uit protes teen ‘n aandeleskema wat uitsluitlik vir swart werknemers is. Solidariteit hou vol dat die skema diskriminerend is en dat die vakbond ‘n klag by die regulatoriese owerheid in die VSA gaan indien. Sasol is ook in die VSA werksaam. Die bestuurshoof van Solidariteit, Dirk Hermann sê hulle is nie gekant teen die aandeleskema nie, hulle wil net hê dat dit vir alle werkers moet geld. Hy sê hulle het aandeleskemas by AngloGold Ashanti en Kumba gesteun. Sasol sê hy het maatreëls ingestel om die uitwerking van ‘n staking teë te werk.

President Cyril Ramaphosa het die China-Afrika-samewerkingsforum in Beijing gevra om werk te skep en miljoene inwoners van Afrika uit armoede op te hef. Hy het by `n sakeontbyt gepraat wat deur sy Chinese ampsgenoot, Xi JinPing, aangebied is. Ramaphosa sê die deelname van Afrika-leiers aan die forum sal bykans `n miljard mense bevoordeel.

Die Universiteit Stellenbosch se Navorsingseenheid vir Brandingenieurswese het ‘n navorsingstoekenning van twee komma nege miljoen rand gekry om sy eerste nagraadse program in te stel. Die eenheid het verlede jaar tot stand gekom om navorsingsgebaseerde oplossings te vind vir die vermindering van brande in informele woongebiede. Die hoof van die Eenheid, Richard Walls sê dit is noodsaaklik om vas te stel hoe brande in dié woongebiede reageer. Hy sê die leerplan vir die nagraadse program is daarop gemik om onder meer beter veiligheidsoplossings te ontwerp.

Lede van die Kaapse Kamer van Koophandel en Nywerheid het ‘n onderneming onderteken om hul plastiek-voetspoor te verklein. Die president van die kamer, Janine Myburgh, sê die lede wil met dié onderneming toesien dat alle verpakking òf hergebruik òf herwin kan word. Sy sê hulle wil die eenmalige gebruik van plastiek uitskakel. Myburgh het alle besighede aangemoedig om die onderneming te onderteken.

Die polisie in die Demokratiese Republiek die Kongo het betogings teen raakskerm-tegnologie vir die verkiesing, gewelddadig onderdruk. Die opposisiegroepe sê die Suid-Koreaanse tegnologie sal bedrog by die stembusse vergemaklik. Die polisie het 22 betogers in hegtenis geneem, maar hulle is weer vrygelaat. Die verkiesing in die land word vir 23 Desember beplan.

Die waarnemende hoof van die regering se kommunikasiediens, Phumla Williams het die voormalige minister van Kommunikasie, Faith Muthambi daarvan beskuldig dat sy ‘n skrikbewind gevoer het en die departement vernietig het tussen 2014 en 2017. Williams het vanoggend haar getuienis voor die Zondo-kommisie voortgesit.

Die voorsitter van die Kommissie, adjunkhoofregter Raymond Zondo sê intussen aansoeke wat ontvang is vir die kruisondervraging van sommige getuies, sal Woensdag aangehoor word. Ajay Gupta, die geskorste hoof van die Valke se teenkorrupsie-eenheid, Zinhle Mnonopi, die voormalige minister van Openbare Ondernemings, Lynne Brown, en die sakeman Fana Hlongwane is van die aansoekers.

 

Motoriste word aangeraai om Malibongwe-rylaan op pad na die Lanseria-lughawe in Randburg te vermy weens protesoptrede. Plaaslike burgerlike- en politieke organisasies en gemeenskapslede het van Cosmo City na Lanseria opgeruk. Hulle is ontevrede oor ‘n tekort aan werksgeleenthede en gebrekkige dienslewering. Die betogers beplan om ‘n memorandum aan die bestuur van die Lanseria-lughawe en ander sake-ondernemings in die gebied te oorhandig.

Brandbestryders het daarin geslaag om die brand in die Pilanesberg Natuurreservaat in Noordwes onder beheer te bring. Die bestuurder van die reservaat, Johnson Maoka sê ‘n inwoner van die Lekutung-gemeenskap het vermoedelik rommel op sy werf aan die brand gesteek. Weens ‘n sterk wind het die brand versprei en groot dele van die reservaat het afgebrand. Hy sê op die oomblik hou die brand nie gevaar in vir die diere nie. Brandbestyders is steeds op die toneel.

Die departement van Binnelandse Sake sê hulle bestudeer die uitspraak van die Kaapstadse Hooggeregshof dat die regering wetgewing in werking moet stel om tradisionele Moslem-huwelike te erken. Die hof het beslis dat die regering binne 24 maande die nodige wetgewing moet instel om dit te doen. `n Volbank regters het beslis dat dit ongrondwetlik is om nié die huwelike regtens te erken nie. Die hofaansoek is in 2014 deur die Vroue-regsentrum ingedien. `n Woordvoerder van die departement, Thabo Mokgola, sê hulle neem kennis van die uitspraak en ook die beslissing dat die Konstitusionele Hof dit moet bekragtig.

Die polisie in Gauteng het die afeglope naweek op 22 vuurwapens beslag gelê en verskeie mense in hegtenis geneem vir die besit van ongelisensieerde vuurwapens. Tydens klopjagte in Soweto is daar ook ys- en vrieskaste gevind wat uit buitelanders se winkels verwyder is. Die verdagtes sal vandag in verskeie landdroshowe verskyn. `n Woordvoerder van die polisie, Lungelo Dlamini, sê drie buitelanders is ook aangekeer nadat die polisie reageer het op bewerings dat die buitelandse winkeleienaars onwettige vuurwapens het. Die winkels van buitelanders is verlede week in Soweto geplunder en hulle moes na veiligheid geneem word. Drie mense is in die geweld dood.

Die Automobiel Assosiasie het motoriste gewaarsku dat die brandstofpryse vir September rekordvlakke gaan bereik. Die Departement van Energie sal na verwagting binnekort die nuwe brandstofprys aankondig wat Woensdag van krag sal word. Die AA skryf die rekordpryse toe aan die swak wisselkoers van die rand en stygende internasionale oliepryse, wat verlede maand met bykans tien persent opgeskiet het. `n Woordvoerder van die AA, Layton Beard, sê hulle verwag dat alle brandstofpryse gaan opskuif. Die prys van 95 oktaanpetrol is reeds meer as 16 rand per liter.

 

Twee joernaliste van die nuusagentskap Reuters is in Mianmar tot sewe jaar tronkstraf elk gevonnis. Dit volg nadat die hof bevind het dat hulle die land se koloniale wetgewing oor staatsgeheime oortree het tydens hulle verslaggewing oor die Rohingya-krisis. Die 32-jarige Wa Lone en die 28-jarige Kyaw Soe Oo voer aan dat hulle in Desember na `n ete met die polisie in Yangon genooi is terwyl hulle die dood van tien Rohingya Moslems in ‘n dorp in die Rakhine-provinsie ondersoek het. Hulle sê hulle is van dokumente voorsien en in hegtenis geneem toe hulle die restaurant verlaat. Die saak het wêreldwyd woede ontlok en is bestempel as ‘n aanval op mediavryheid. Die hofbeslissing volg ‘n week nadat ‘n VN-verslag Mianmar se weermagbevelvoerders van volksmoord en misdade teen die mensdom teen die Rohingya beskuldig het.

 

Die Chinese president, Xi Jingping, het onderneem om met sy Suid-Afrikaanse ampsgenoot, Cyril Ramaphosa, saam te werk om te verseker dat die derde Forum oor China-Afrika Samewerking, wat vandag begin, suksesvol is. Die twee leiers sal saam optree as voorsitters vir die tweedaagse vergadering wat deur meer as 50 Afrika staatshoofde bygewoon sal word. Hulle het tydens Ramaphosa se besoek aan China gesprek gevoer, na Xi se besoek in Julie. Die Chinese president het deur ‘n tolk gesê hy wil hê die vergadering in Beijing moet tot voordeel wees van Afrika se meer as ‘n miljard inwoners. Suid-Afrika en China het vyf bilaterale ooreenkomste tydens Ramaphosa se staatsbesoek aan Beijing onderteken. Dit bring die getal ooreenkomste wat die afgelope paar maande tussen die twee lande gesluit is, op bykans 20 te staan.

Bron: RSG

Weer

Temperature vir vandag vir die hoof Sentra in die land soos deur die Suid Afrikaanse Weerburo

Warmbad – Mooi weer & baie warm

Min 18 Max 31

Nelspruit – Mooi weer & baie warm

Min 16 Max 30

Pretoria – Sonnige dag

Min 20 Max 28

Johannesburg –Mooi weer & warm

Min 18 Max 26

Vereeniging – Mooi weer & warm

Min 17 Max 28

Rustenburg – Mooi weer & baie warm

Min 16 Max 30

Bloemfontein – Mooi weer & warm

Min 11 Max 25

Kimberley – Sonnige dag

Min 13 Max 29

Durban – Mooi weer & warm

Min 19 Max 24

Oos London – Mooi weer & warm

Min 19 Max 28

Upington –Sonnige dag

Min 10 Max 8

Kaapstad – Bewolk en koud met mot reënbuie plek plek

Min 12 Max 15

Port Elizabeth –  Mooi weer tot warm

Min 12 Max 25

En laastens

Sutherland – Sonnige dag

Min 5 Max 15


 

Leave a Reply