Weeksdae Aangebied deur Yolanda om 9:30
Klik HIER om weer te luister
https://archive.org/details/yol2018-09-11.092924
Kennisgewing
- Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
- Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berig skrywer.
- Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda
Die Nuus word aangebied in samewerking tussen Netradiosa & FM stereo & FM Live Gospel Active
Brandbestryders is ontplooi na die Strand-treinstasie buite Kaapstad waar nog ‘n trein aan die brand is. ‘n Woordvoerder van die brandweer, Theo Layne sê daar is twaalf brandbestryders, twee brandweervoertuie en ‘n watertenkwa op die toneel. Hy sê die brand is op die oomblik tot een treinwa beperk. Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie. Treindienste in Kaapstad en omliggende gebiede is die afgelope maande gereeld deur voorvalle van brandstigting ontwrig en miljoene rand se skade is aan treininfrastruktuur aangerig.
Die Minister van Polisie, Bheki Cele, sal vanoggend in die Parlement die misdaadsyfers vir 2017/2018 bekendmaak. Hy verskyn voor die Portufeulje Komitee oor Polisie en sal daarna `n nuuskonferensie toespreek. Die misdaadsyfers sal fyn dopgehou word om te sien of daar enige nuwe tendens is sedert Cele in Februarie as minister by Fikile Mbalula oorgeneem het. Die laaste misdaadsyfers in Oktober het aangedui dat moorde met een-komma-agt persent en huisinbrake met sewe persent toegeneem het.
Die ANC in KwaZulu-Natal het sy skok uitgespreek met die inhegtenisneming van een van sy raadslede in die uMsunduzi-munisipaliteit in verband met die moord op ‘n ANC-aktivis. Die raadslid, twee van sy lyfwagte en nog drie persone het gister vlugtig in die hof verskyn in verband met die moord. Musawenkosi Maqatha Mchunu is in Mei by sy huis in Pietermaritzburg vermoor. ‘n Woordvoerder vir die ANC in die provinsie, Nomogugu Simelane-Zulu, sê hoewel die verdagts se skuld eers bewys moet word, is die blote feit dat hy van die moord verdink word, uiters ontstellend.
Gauteng se departement van Gesondheid het bewerings deur die verpleërsvakbond Denosa verwerp dat minstens 24 babas by die Thelle Mogoerane-hospitaal in Vosloorus aan die Gautengse Oosrand aan weerstandige klebsiella dood is. Denosa het gister gesê hulle het tevergeefs probeer om die departement se aandag op die situasie by die hospitaal te vestig. Die departement se hoof van hospitaaldienste, Medupi Modisane, hou vol dat slegs vyf babas by die hospitaal dood is. Modisane het gesê ‘n aantal babas word egter nog in een van die afdelings in die hospitaal behandel, maar die ander gedeeltes is reeds ontsmet en vry van enige oordraagbare bakterieë.
Werknemers van verskeie Gautengse regeringsdepartemente sal vanoggend by alternatiewe kantore moet aanmeld vir werk, na gister se besluit deur die provinsiale regering om nege geboue in die Johannesburgse middestad te ontruim. Die geboue voldoen nie aan minimum gesondheid- en veiligheidstandaarde nie. Die besluit volg na die brand verlede week in die Bank van Lissabon-gebou, wat drie Gautengse regeringsdepartemente gehuisves het. Drie brandbestryders is in die brand dood. Die Gautengse regeringswoordvoerder, Thabo Masebe sê daar moet dringend opgetree word om te verseker dat die geboue aan vereistes voldoen.
Die minister van Telekommunikasie en die Posdiens, Siyabonga Cwele, sê die regering maak gereed vir die lisensiëring van vyfdegenerasie tegnologie, bekend as 5G-tegnologie, sodra dit toegeken is. Cwele sê die regering kan nie langer vertragings bekostig met die aanlê van die infrastruktuur nie en wil daarom met die private sektor hande vat. Kabellose 5G-tegnologie is die jongste tegnologie wat die spoed van kabellose internetnetwerke sal verhoog sodat dit dit meer doeltreffend sal wees.
Swaar gewapende mans het die hek van `n gevangenis in die noordooste van van Brasilië met plofstof oopgeskiet en byna 90 gevangenes het ontsnap. Volgens beamptes het bykans 20 mans in vier voertuie die gevangenis aangeval en op die wagte geskiet. `n Polisiebeampte is gewond en het later in die hospitaal gesterf. Bykans die helfte van die gevangenes wat ontsnap het, is weer aangekeer. Die maksimum sekuriteitsgevangenis in Joao Pessoa in die Paraiba-staat huisves bykans 680 gevangenes.
Meer as miljoen mense is aangesê om gebiede aan die ooskus van Amerika te ontruim voor die Orkaan Florence die gebied tref. Die orkaan het versterk tot ‘n kategorie vier storm met wind van tot 220 kilometer per uur, en sal die kus na verwagting Donderdag tref. Dit kan die ergste storm wees wat die gebied in byna drie dekades tref. Die goewerneur van Suid-Carolina het opdrag gegee dat die deelstaat se hele kuslyn ontruim word, en skole in 26 van die 46 distrikte sal van vandag af gesluit wees. Die deelstate Noord-Carolina, Virginië en Maryland het ook noodtoestande afgekondig. Owerhede het inwoners opdrag gegee om na die binneland te beweeg.
Xenofobie in Klerksdorp
Inwoners van Klerksdorp het huise van uitlanders aan die brand gesteek.
Twee persone is dood waaronder ‘n taxibestuurder. ‘n Groep taxibestuurders het klaarblyklik die dood van ‘n kollega gewreek.
Stalletjies van uitlanders is by die taxistaanplek is ook aan die brand gesteek.
Die regering het gevra vir kalmte en versoek dat inwoners nie die reg in eie hande moet neem nie.
Intussen het ‘n winkel in die Oos-Londense Oosterse Plaza afgebrand en polisie ondersoek ‘n die moontlikheid van brandstigting.
Bron: Die Vryburger
ANC raadslid gesoek in PE
‘n Raadslid van die Nelson Mandela Baai stadsraad word gesoek vir bedrog en geldwassery.
Hy is vroeër die jaar skuldig bevind en ‘n vonnis van 5 jaar opgelê. Bongo Nombiba is ‘n ANC raadslid in die area.
Intussen is ‘n ANC raadslid gearresteer in Pietermaritzburg vir die moord van ‘n ander ANC amptenaar. Die ANC segsman van Natal , Simelane-Zulu is geskok oor die moord en sê daar moet strenger dissipline binne die party toegepas word.
Bron: Die Vryburger
Stad Kaapstad vra noodtoestand aan
Die Stad Kaapstad het erken dat die polisie en metropolisie nie in staat is om geweld op treine en stasies te beheer, nie deur die minister van vervoer, Blade Nzimande, te vra om ‘n noodtoestand aan te kondig rondom spoordienste in die Kaapse omgewing.
Vroeëre versoeke aan Nzimande om hulp het op dowe ore geval.
Aanvalle op treine word sterk veroordeel deur die owerheid maar weereens kom die dubbelslagtigheid na vore aangesien die regering nog nooit die wrede plaasmoorde in dieselfde terme veroordeel het nie.
In die jongste voorval in dié opsig, is twee vroue, onderskeidelik 72 en 52 jaar oud, met grawe op hulle plaas by Northam aangeval. Die een is in ‘n kritieke toestand in die hospitaal.
Bron: Die Vryburger
Grondpryse val met 32%
Pryse van landbougrond het met bykans 32% gedaal sedert die ANC die diefstal van grond deur die regering aangekondig het.
Kenners meen die stap van die regering kan lei tot die erosie van eiendomsregte.
Intussen het Johann Bornman van Agri Developments Solutions (ADS) die belaglike stelling gemaak dat daar nie een enkele boer is wat nie saamstem met die grondhervormingsplan nie. Ontstoke boere sê die verraad in eie kringe loop al sterker.
As daar na ADS gekyk word loop die woorde Swart Ekonomiese Bemagtiging sterk deur hul visie en wil hulle die tussenganger funksie verrig in die identifisering van hervormingsprojekte.
Die gemiddelde prys van landbougrond het geval tot net bo R9 000 per hektaar, en die verwagting is dat dit nog verder kan val.
Op die manier kan die regering steeds landbougrond teen ‘n appel en ‘n ei bekom, en verloor grondeienaars reeds, al sou hulle vergoeding ontvang.
Bron: Die Vryburger
New Age en Infinity Media kry R260 miljoen
Die twee media kanale wat deur die gebroeders Gupta besit was, het sowat R260 miljoen ontvang van die nasionale regering en provinsiale regerings.
Vrystaat was voor in die koor met ‘n skenking van R80 miljoen, Natal gee R25 miljoen, en Noordwes R23,8 miljoen.
Jan Gilliland van die Tesourie het hierdie syfers bekend gemaak tydens sy getuies voor die Zondo kommissie oor staatskaping.
Van die provinsiale leiers van daardie tyd, is nou grootkoppe in die ANC en Lethuli-huis, wat die hoop laat vervaag dat daar werklik iets van gaan kom.
Bron: Die Vryburger
Joernalis kry doodsdreigemente
Die joernalis, Q Hunter, wat ‘n artikel geplaas het oor die ontmoeting van Jacob Zuma en andere om Cyril Ramaphosa te onttroon, het doodsdreigemente ontvang van die ANC vroueliga se sekretaris-generaal, Meokgo Matumba.
Die Kaapstadse Persklub het die dreigemente veroordeel.
Die ANC het vroeër geëis dat die Sunday Times die gewraakte berig moet herroep.
Bron: Die Vryburger
Weer
Temperature vir vandag vir die hoof Sentra in die land soos deur die Suid Afrikaanse Weerburo
Warmbad – Sonnig en warm met ‘n Min 14 en Max 25
Nelspruit – Sonnig en baie warm met ‘n Min 14 en Max 30
Pretoria – Sonnig en warm met ‘n Min 18 en Max 23
Johannesburg – Sonnig en warm met ‘n Min 15 en Max 22
Vereeniging – Sonnig en warm met ‘n Min 13 en Max 24
Rustenburg – Sonnig en warm met ‘n Min 13 en Max 25
Bloemfontein – Sonnig koud in die oggend en warmer later met ‘n Min 8 en Max 22
Kimberley – Sonnig en warm met ‘n Min 13 en Max 26
Durban – Sonnig en warm met ‘n Min 17 en Max 23
Oos London – Sonnig en warm met ‘n Min 16 en Max 23
Upington – Sonnig en warm baie met ‘n Min 11 en Max 29
Kaapstad – Gedeeltelik bewolk en warm met ‘n Min 14 en Max 21
Port Elizabeth – Sonnig met ‘n Min 11 en Max 20
En laastens
Sutherland – Sonnig met ‘n Min -1 en Max 20