You are currently viewing Potgooi – Nuus 9:30   21 September 2018  Vrydag

Potgooi – Nuus 9:30 21 September 2018 Vrydag

Weeksdae Aangebied deur Yolanda om 9:30

Klik HIER om weer te luister

https://archive.org/details/yol2018-09-21.092841

Kennisgewing

  1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berig skrywer.
  3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda

Die Nuus word aangebied in samewerking tussen Netradiosa & FM stereo & FM Live Gospel Active

 

Nuus

Die EFF se aansoek om die Wet op Oproerige Byeenkomste van 1956 ongrondwetlik te laat verklaar, is tot 12 en 13 Desember uitgestel. Die EFF-leier, Julius Malema, word ingevolge dié wetgewing aangekla in sake in Bloemfontein en Newcastle en voer aan dat die wetgewing voortspruit uit die apartheidsera. Malema staan tereg op aanklagte dat hy mense aangemoedig het om grond onwettig te beset. ‘n Volbankregters in die hooggeregshof in Pretoria sou vandag die EFF se aansoek aanhoor, maar dit is uitgestel weens ‘n prosedurele kwessie. Dit het in die hof aan die lig gekom dat ‘n 16A kennisgewing – wat ‘n vereiste is wanneer die grondwetlikheid van ‘n saak bevraagteken word – nie op die regte wyse ingedien is nie.

‘n Volbank regters in die hooggeregshof in Pretoria het beslis dat oudpresident Jacob Zuma mag toetree as party tot die saak oor sy regskostes. Zuma wil appelleer teen die hofbeslissing op 13 Desember dat hy persoonlik aanspreeklik is vir die regskostes in sy aansoek om die voormalige Openbare Beskermer, Thuli Madonsela se staatskapingsverslag te laat hersien. Hy moes egter eers tot die proses toetree voordat hy kan appelleer. Die EFF, DA, Cope, UDM en die Raad vir die Bevordering van die Grondwet het Zuma se aansoek teengestaan. Die hofbeslissing beteken dat Zuma nou kan aansoek doen om verlof tot appél teen die kostebevel.

Die voormalige burgemeester van die Nelson Mandelabaai Metroraad, Athol Trollip, sê die DA sal as opposisieparty in die raad voortgaan met sy taak om die lewens van mense te verbeter. Die Hooggeregshof in Port Elizabeth het vanoggend beslis dat die vergadering waartydens Mongamelo Bobani van die UDM tot burgemeester verkies is, wel wettig is. Die aansoek van die DA, Cope en die ACDP is met koste van die hand gewys. Trollip sê die DA kan as opposisie sy werk doen om korrupsie en swak dienslewering te bestry, maar werkskepping is ‘n moeilike taak vanuit die opposisiebank.

Die polisie het bevestig dat ‘n ANC-raadslid van die Tshwane Metro Woensdagaand doodgeskiet is terwyl sy op pad huis toe was in Winterveld buite Mabopane, noord van Pretoria. Haar kinders was volgens berigte by haar toe sy aangeval is. Daar is na bewering skote op haar afgevuur, waarna sy beheer oor die voertuig verloor en rotse langs die pad getref het. ‘n Polisiewoordvoerder, Mmanoyane Molane sê die slagoffer is in die nek geskiet en is hospitaal toe gehaas, waar sy later dood verklaar is. Molane sê die motief vir die moord is nog nie bekend nie en niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Agt verdagtes het vlugtig in die hooggeregshof in Pietermaritzburg verskyn in verband met verskeie moorde by die berugte Glebelands-hostel in Umlazi, noord van Durban. Meer as honderd mense is sedert 2011 in die gebied vermoor. Die verdagtes staan tereg op aanklagte van moord, poging tot moord, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie en rampokkery. Die saak is uitgestel tot 28 Januarie aanstaande jaar.

Die Swaziland Solidariteitsnetwerk het ‘n beroep op President Cyril Ramaphosa gedoen om in te gryp by môre se verkiesing in Eswatini, wat vroeër as Swaziland bekendgestaan het. Die organisasie beweer dat die verkiesing nie vry en regverdig sal wees nie. Geen politieke partye mag aan die verkiesing deelneem nie en Koning Mswati die derde kies self na die verkiesing die eerste minister en kabinet. Die netwerk sê baie mense boikot die verkiesing omdat daar geen goeie kandidate is om voor te stem nie. Die woordvoerder sê President Ramaphosa kan druk uitoefen op die regering om meer demokraties te word, omdat sowat 80-persent van Eswatini se ekonomie van Suid-Afrika afhanklik is. Hy sê hulle hoop Ramaphosa se regering sal anders optree as die regering van oudpresident Jacob Zuma.

Die Minister van Finansies, Nhlanhla Nene, die Minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan en ‘n voormalige minister van dié portefeulje‚ Barbara Hogan, gaan aanstaande maand voor die Zondo-kommissie getuig wat staatskaping ondersoek. Die voorsitter van die kommissie, regter Raymond Zondo, het gisteroggend ‘n aansoek van die voormalige minister van Openbare Ondernemings, Lynne Brown, van die hand gewys om getuies te kruisonderva. Die voormalige adjunk-minister van finansies, Mcebisi Jonas het vroeër getuig dat die Gupta-familie nou saamgewerk het met ‘n aantal mense wat Brown en Brian Molefe ingesluit het. Regter Zondo sê Brown het nie haar weergawe van die gebeure gegee nie. Hy sê sy kan later ‘n nuwe aansoek bring indien dit aan die vereistes voldoen. Die kommissie hervat sy werksaamhede oor ‘n week.

 

Die saak teen die voormalige waterpolo-afrigter van die Parktown Boys-skool in Johannesburg, Collen Rex, is in die hooggeregshof in Palm Ridge tot verdere kennis uitgestel. Vonnisopleggingsprosedures sou vandag begin het, maar die hof kon nie voortgaan nie aangesien die vonnisverslag van ‘n maatskaplike werker nog nie beskikbaar is nie. Rex is verlede week skuldig bevind op 144 aanklagte van seksuele aanranding en 12 van aanranding. Dit hou verband met die seksuele misbruik van 23 kinders by die skool.

Die polisie in die Suid-Kaap sê daar is steeds geen teken van die Duitse toeris wat die naweek naby Plettenbergbaai vermis geraak het nie. Die 26-jarige Niels Frederik Szenbek het Vrydag by die Tsitsikamma Sunrise-karavaanpark naby die Crags aangekom. Hy is Saterdag vir die laaste keer gesien deur die eienaar van die karavaanpark. Die polisie het ‘n soektog van stapel gestuur nadat hy as vermis aangemeld is. In April het ‘n 21-jarige Noorweegse student, Marie Ostbo, in Sedgefield op die Tuinroete vermis geraak nadat sy op die strand gaan stap het. Die polisie het ‘n grootskaalse land- en seesoektog van stapel gestuur, maar kon haar nie opspoor nie. Haar hoed, skoene en selfoon is op die strand gevind.

Die Kommissie van Ondersoek na Staatskaping sal na verwagting vandag ‘n aansoek aanhoor van die voormalige Minister van Openbare Ondernemings, Lynne Brown, se regspan om getuies onder kruisverhoor te neem. Verlede maand het die voormalige adjunkminister van Finansies, Mcebisi Jonas getuig dat Ajay Gupta aan hom genoem het dat die Guptafamilie nabye betrekkinge het met ‘n aantal hooggeplaastes, onder wie Brown en Brian Molefe. Die kommissie het die afgelope vier dae getuienis aangehoor van senior bestuurslede van die vier vernaamste handelsbanke. Getuies vir Standard Bank, FNB, Absa en Nedbank het getuig dat hulle almal uitnodigings na die ANC se hoofkwartier Luthuli-huis ontvang het nadat die bankrekeninge van Gupta-maatskappye gesluit is.

Die monetêre beleidskomitee van die Reserwebank sal na verwagting die repokoers onveranderd laat op ses komma vyf persent wanneer die bank vanmiddag sy besluit oor die rentekoers aankondig. Ekonome sê verbruikersinflasiesyfers wat gister bekendgemaak is, is ‘n aanduiding dat die repokoers onveranderd gelaat sal word. Die swak rand tesame met moontlike brandstofprysverhogings kan beteken dat rentekoerse teen die einde van die jaar wel kan styg.

Die voormalige sekretaris-generaal van Cosatu in die Wes-Kaap, Tony Ehrenreich sê die Wet op Gelyke Werkgeleenthede moet aangepas word sodat bruin mense deel is van die Afrika kultuurgroepering soos Xhosa’s en Zoeloe’s. Hy sê in ‘n brief aan die presidensie dat almal wie se voorvaders op die vasteland gebore is as ‘n Afrikaner gereken moet word. Ehrenreich sê die huidige wet benadeel bruin mense.

Die Hooggeregshof in Pretoria sal vandag ‘n appèlaansoek aanhoor oor ‘n kostebevel teen voormalige president Jacob Zuma. Dit hou verband met ‘n beslissing in Desember verlede jaar dat Zuma self verantwoordelik is vir die regskoste om die bekendmaking van die vorige Openbare Beskermer se aanbevelings in die verslag oor staatskaping, te keer. Die EFF en ander partye betwis die aansoek.

In nog ‘n hoë profielsaak in die Hooggeregshof in Pretoria sal die EFF se beswaar oor die grondwetlikheid van die Wet op Oproerige Byeenkomste aangehoor word. Die EFF-leier, Julius Malema, word ingevolge dié wetgewing aangekla in sake in Bloemfontein en Newcastle en voer aan dat die wetgewing voortspruit uit die apartheidsera. Malema staan tereg op aanklagte dat hy mense aangemoedig het om grond onwettig te beset.

‘n Onbekende aantal mense is dood in nóg ‘n busongeluk in Limpopo – hierdie keer op die N1 buite Polokwane. Die ongeluk het vanoggend gebeur toe die bus omgeslaan en teen ‘n wal afgerol het. ‘n Woordvoerder van provinsiale departement van vervoer, Matome Moremi, sê min besonderhede is bekend, maar volgens vooropige berigte is tien mense in die ongeluk dood. Moremi sê die verkeer op die N-1 word nie deur die ongeluk geraak nie. Motoriste word egter versoek om nie by die ongelukstoneel stil te hou nie.

Die situasie in die onrusgeteisterde Boitumelong by Bloemhof in Noordwes is vanoggend gespanne nadat minstens een persoon in gewelddadige botsings in die gebied dood is. Talle mense is beseer in die gevegte tussen bendes aan die een kant en lede van die gemeenskap en taxibestuurders aan die ander kant. Volgens berigte het die botsings tot laatna geduur en het groepe mekaar met ysterstawe en verskeie ander voorwerpe aangeval. Openbare vervoer in die gebied word deur die situasie geraak en kommer bestaan dat leerders en werkers vandag probleme met vervoer sal ondervind.

Die minister van Kommunikasie, Nomvula Mokonyane, sê die ekonomiese herstel-en groeiplan en aansporingspakket wat President Cyril Ramaphosa vandag in Pretoria gaan aankondig, val saam met Japan se bekendmaking van ‘n groot belegging in Suid-Afrika. Mokonyane sê Japan beoog om oor die volgende vyf jaar sowat 100 miljard Amerikaanse dollar in sektore soos vervaardiging en inligtings-en kommunikasietegnologie te belê.

Meer as 200 plaaswerkers in die Noord-Kaapse Hantamstreek het hul werk verloor weens die droogte die afgelope vier jaar in die gebied. Sowat 160 families op Calvinia het kospakkies en komberse ontvang van die noodlenigingsorganisasie, Gift of the Givers. Een van die plaaswerkers wat afgelê is, Anna Baadjies, sê haar gesin sukkel om te oorleef.

Rugby: Vyf spelers sal nie beskikbaar wees vir die Springbokke se laaste twee Rugbykampioenskapkragmetings nie. Die Springbokafrigter, Rassie Erasmus het bevestig dat Damian de Allende, Lukhanyo Am en Makazole Mapimpi beseer is. Willie le Roux en Francois Louw het weens klubverpligtinge teruggekeer na Engeland, en sal nie vir die twee kragmetings beskikbaar wees nie. Erasmus het ‘n voorlopige span van 17 bekendgemaak, terwyl nog spelers aangekondig sal word na die naweek se Curriebekerkragmetings. Die Springbokke speel op 29 September teen Australië in Port Elizabeth, en kom ‘n week later in Pretoria teen Nieu-Seeland te staan.

Weer

 

Temperature vir vandag vir die hoof Sentra in die land soos deur die Suid Afrikaanse Weerburo

Warmbad – Mooi weer & warm

Min 19 Max 30

Nelspruit – Sonnige dag

Min 17 Max 30

Pretoria – Mooi weer & warm

Min 20 Max 29

Johannesburg – Sonnige dag

Min 18 Max 25

Vereeniging – Mooi weer & warm

Min 18 Max 29

Rustenburg – Sonnige dag

Min 19 Max 29

Bloemfontein – Bewolk met verspreide reënbuie     

Min 16 Max 28

Kimberley – Bewolk met verspreide tot swaar reënbuie

Min 18 Max 29

Durban –  Bewolk met motreën plek plek     

Min 18 Max 23

Oos London – Sonnige dag

Min 14 Max 20

Upington – Mooi weer&warm

Min 22 Max 29

Kaapstad – Gedeeltelik bewolk & matig

Min 12 Max 17

Port Elizabeth –   Gedeeltelik bewolk & matig

Min 13 Max 18

Sutherland – Sonnige dag

Min 3 Max 16


 

 

Leave a Reply