You are currently viewing Potgooi-Nuus en Weer 09 Oktober 2018

Potgooi-Nuus en Weer 09 Oktober 2018

Potgooi-Nuus en Weer 09 Oktober 2018

Aangebied deur Yolanda Weeksdae om 9:30(CAT)

Klik HIER om weer te luister

https://archive.org/details/yol2018-10-09.092823

Kennisgewing

  1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berig skrywer.
  3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda

Die programme word aangebied in samewerking tussen Netradiosa, FM Stereo & FM Live Gospel Active

Nuus

HOOFTREKKE

*Studente van die Walter Sisulu-universiteit in Mthatha in die Oos-Kaap het die minister van Hoër Onderwys, Naledi Pandor, gevra om in te gryp en die universiteitsbestuur te dwing om veiligheid te verskerp. Dit volg ná die verkragting van ‘n student die afgelope naweek op die kampus. Studente sê sy is nie die eerste student wat by dié universiteit verkrag word nie. Diefstal van skootrekenaars en ander items kom volgens hulle ook gereeld voor, veral in die Atlanta-koshuis. ‘n Student is verlede jaar ook in dié koshuis vermoor.

*Die bestuur van die Tshwane Universiteit van Tegnologie sê die eksamen by die Soshanguve-kampus is geherskeduleer en sal op 3 Desember begin sodat studente genoeg tyd het vir voorbereiding. Lesings is gister hervat nadat die kampus sewe weke lank gesluit was, toe gewelddadige betogings ná die skietdood van ‘n student, Katlego Monareng uitgebreek het. Monareng is na bewering deur die polisie doodgeskiet toe geweld uitgebreek het weens ontevredenheid met ‘n studenteraadverkiesing. ‘n Voorlopige verslag oor die oorsaak van die geweld sal Vrydag bekendgemaak word.

*Negentien verdagtes wat in hegtenis geneem is in verband met ‘n aanval op ‘n moskee en ‘n reeks voorvalle by winkelsentrums in KwaZulu-Natal, sal vandag weer in die hof in Verulam verskyn. Die saak het gister tydens die verdagtes se eerste hofverskyning, agter geslote deure plaasgevind. Die media en familielede is ook nie toegelaat nie. Die beskuldigdes is Vrydag in hegtenis geneem en staan tereg op 14 aanklagte, insluitend moord, poging tot moord, oortredings wat verband hou met ploftoestelle, brandstiging, afpersing en terreur. ‘n Woordvoerder van die Valke, Hangwani Mulaudzi sê die Staat wil hê dat die saak vir eers in camera plaasvind weens die sensitiewe aard van die ondersoek. ‘n Uitkenningsparade moet ook nog plaasvind.

*Tien verdagtes wat betrek word by ‘n transitorooftog agt dae gelede op Matlhonyane in Noordwes sal in aanhouding bly. Hulle het gister in die hof verskyn in verband met die rooftog. Hulle is verlede week naby Mahikeng vasgetrek. Die eerste man wat in hegtenis geneem is, het ‘n bekentenis aan die polisie gemaak.

*Die ANC-raadslid van die Nelson Mandelabaai metroraad, Andile Lungisa, is deur die party se uitvoerende komitee in die Oos-Kaap aangesê om te bedank. Die raad se UDM-burgemeester, Mongameli Bobani, het Lungisa onlangs in sy burgemeesterskomitee ingesluit. Lungisa is uit op borgtog hangende ‘n petisie in die hooggeregshof om verlof tot appèl teen sy vonnis van twee jaar tronkstraf vir die aanranding van die DA-raadslid Rano Kayser in 2016. Lungisa, wat burgemeesterskomiteelid is vir Infrastruktuur en Ingenieurswese, sal as raadslid aanbly. Die ANC se woordvoerder in die metroraad, Gift Ngcondi, sê die provinsiale komitee het in opdrag van die nasionale uitvoerende komitee opgetree.

*Die Gautengse Shutdown-koördineringkomitee, wat oorwegend bruin gemeenskappe in Johannesburg verteenwoordig, beplan om vanoggend ‘n protesoptrede by die JSE in Sandton te hou. Die komitee sê die protesaksie sal fokus op die ekonomiese uitsluiting van bruin mense. Hulle sê daar sal met die protesoptrede voortgegaan word vir die res van die jaar totdat daar ‘n aanvaarbare reaksie van President Cyril Ramaphosa en sy kabinet is.

*Die optog volg op onlangse betogings in hoofsaaklik bruin woongebiede in Johannesburg, onder meer in Westbury, om aan te dring op verskerpte polisie-optrede teen bendeverwantemisdaad.

*Die ondersoek na die proses om naturalisasie aan die Gupta-familie toe te staan, sal vandag in die parlement in Kaapstad hervat word. Die minister van Binnelandse Sake, Malusi Gigaba, is onder diegene wat voor die Portefeuljekomitee oor Binnelandse Sake, gaan getuig. Die voormalige direkteur-generaal van die departement, Mkhuseli Apleni, het reeds voor die komitee getuig. Apleni is deur komiteelede gekritiseer wat gesê het dat daar nie behoorlik toegesien is dat die korrekte prosedures gevolg word met die goedkeuring van die Guptas se aansoek nie. Gigaba is as getuie geroep, omdat hy ten tyde van die naturalisasie-proses, tussen 2014 en vroeg 2017 die minister van Binnelandse Sake was.

*Grondhervormingskenners sê indien die regering misluk met sy planne om meer gelykheid in die land te skep deur meer grond aan arm, swart mense te gee, is sy dae aan bewind in ernstige gevaar. Die ANC het onderneem om meer grond aan swart mense te gee om die onregte van die verlede reg te stel. Die hoof van die Instituut van armoede, grond en landboustudies aan die Universiteit van die Wes-Kaap, Ben Cousins, sê armes is kwaad omdat hulle meestal nie die beloofde beter lewensomstandighede gekry het nie.

*President Cyril Ramaphosa het gisteraand by die agtste jaarlikse Desmond Tutu internasionale vredeslesing in Kaapstad sy kommer uitgespreek oor die voortgesette afsettings op plase in die Wes-Kaap. Hy het gesê vrede en vooruitgang sal nie moontlik wees voordat die grondvraagstuk opgelos is nie. Ramaphosa sê onteiening was ‘n gewelddadige proses wat talle swart mense, bruin mense en Indiërs van hul menswaardigheid beroof het.

*Die orkaan Michael het swaar reën en sterk wind in die weste van Kuba tot gevolg namate dit momentum kry onderweg na die Amerikaanse staat, Florida. Die Kubaanse regering sê hy monitor die kategorie een-storm, maar beplan nie in dié stadium om gebiede te ontruim nie. Minstens 13 mense is dood in oorstromings en grondstortings in Honduras en Nicaragua. Die Orkaan Michael sal na verwagting die noordwestelike deel van Florida later die week as ‘n kategorie drie-storm tref, en inwoners het reeds begin met voorbereidings om hul huise te verlaat.

*Die Amerikaanse president, Donald Trump, het die nuwe regter in die land se hoogste hof, Brett Kavanaugh, om verskoning gevra vir wat hy noem ‘n ‘veldtog van leuens’. Trump het verwys na die hewige debat oor Kavanaugh se benoeming, waartydens hy beskuldig is van seksuele aanranding. Hy het die bewerings ontken. Die Senaat se uiteindelike bevestiging van Kavanaugh as regter, word gesien as ‘n reuse-oorwinning vir Trump en konserwatiewes in die land. Kavanaugh het tydens die beëdigingseremonie by die Withuis gesê hy is nie aangestel om die belange van ‘n enkele party te bevorder nie, maar dié van Amerika en al sy burgers. Top of Form

Weer

Temperature vir vandag vir die hoof Sentra in die land soos verskaf deur die Suid Afrikaanse Weerburo

 

Warmbad – Gedeeltelik bewolk en  warm

Min  14 Max 32

Nelspruit –  Gedeeltelik bewolk en warm

Min  11 Max 26

Pretoria – Gedeeltelik bewolk en baie warm

Min  14  Max 30

Johannesburg –  Gedeeltelik bewolk en warm

Min  14 Max 29

Vereeniging – Gedeeltelik bewolk en baie warm

Min  14 Max 31

Rustenburg –  Gedeeltelik bewolk en baie warm

Min 14  Max 33

Bloemfontein –  Gedeeltelik bewolk en baie warm

Min  10 Max 32

Kimberley –  Gedeeltelik bewolk en baie warm

Min 16 Max 34

Durban –  ‘n Warm, sonnige dag

Min 19 Max 26

Oos London – Gedeeltelik bewolk en warm

Min  18 Max 29

Upington –       Sonnig en baie warm

Min 19 Max 36

Kaapstad – Gedeeltelik bewolk en matig

Min 18  Max 22

Port Elizabeth –   Gedeeltelik bewolk en warm

Min 16  Max 26

Sutherland – Gedeeltelik bewolk en warm

Min  9 Max 30


 

Leave a Reply