You are currently viewing Potgooi – Nuus en Weer 3 Oktober 2018

Potgooi – Nuus en Weer 3 Oktober 2018

Potgooi – Nuus en Weer 3 Oktober 2018

Aangebied Weeksdae om 9:30 (CAT) deur Yolanda

Klik HIER om weer te luister

https://archive.org/details/yol2018-10-03.092911

Kennisgewing

  1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berig skrywer.
  3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda

Die programme word aangebied in samewerking tussen Netradiosa & FM stereo

 

 

Hooftrekke

Die Wes-Kaapse United Safety Front beplan `n reeks gebeure om beswaar te maak teen die hoë misdaadsyfers in die provinsie. Die eerste daarvan is ‘n beplandse optog vandag na die parlement. Die beweging het op ‘n nuuskonferensie in Soutrivier gesê die optog sal ook dien om die United Safety Front as deel van die Shutdown-beweging bekend te stel. Die Shutdown-beweging het vroeër betogings in gebiede soos Bonteheuwel, Manenberg en Hanoverpark gereël en sluit organisasies soos COSATU, godsdienstige- en burgerregtegroepe in. Die doel is om optredes teen misdaad en bendebedrywighede te koördineer.

Die Johannesburgse afvalbestuurmaatskappy, PIKITUP, funksioneer op die oomblik met beperkte mannekrag aangesien sy vlootkontrak verval het. Dit kan daartoe lei dat sommige inwoners in Johannesburg se vullis nie verwyder sal kan word nie. Die stad se bestuurskomiteelid vir Omgewing en Infrastruktuur, Nico de Jager, sê die vullisverwyderingsdienste sal môre hervat word. De Jager het ook gewaarsku dat die amptenare wat versuim het om die kontrak te hernu, die gevolge sal moet dra.

‘n Kliniek in Wallacedene in Kraaifontein buite Kaapstad is gister gedwing om te sluit nadat dit aangeval is. Die Kaapstad Metroraad sê alle noodgevalle is geëvalueer om seker te maak pasiënte is veilig voor hulle na ander mediese sentrums uitgeplaas is. Die Burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid, JP Smith, sê die situasie sal vandag herevauleer word om te kyk of dit veilig is om die kliniek weer oop te maak. Smith het die gewelddadige aanval op personeel en gemeenskapsgeriewe veroordeel. Dit is nie duidelik wat die rede vir die aanval was nie.

Die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Advertensiestandaarde, ASA, is deur sakeredders gelikwideer. Krediteure, wat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens insluit, het ‘n aanbieding van ASA om sy skuld van ses miljoen rand af te betaal, van die hand gewys. Die uitvoerende hoof van die agentskap, Gail Schimmel, sê die besluit was ‘n verrassing, aangesien ASA reeds twee miljoen rand ingesamel het om sy skuld af te betaal. Die agentskap het ‘n nuwe befondsingsmodel geskep, met maandelikse bydraes, om sy bedryfskoste te dek. Die agentskap, wat verantwoordelik is vir selfregulering in die advertensiebedryf, is vanjaar vyftig jaar oud. Schimmel sê hulle ondersoek die moontlikheid om ‘n nuwe bedryfsliggaam te stig.

‘n Vrou wat blind is na ‘n gholfbal haar by die Ryderbeker-toernooi teen die kop getref het, het ‘n eis teen die organiseerders ingestel. Corine Reemande, wat 49-jaar oud is, is verlede Vrydag op die sesde putjie deur ‘n bal van die Amerikaner Brooks Koepka teen die kop getref. Sy is op die gholfbaan behandel voor sy na ‘n ooghospitaal geneem is vir spesialsbehandeling. Sy het van Egipte af saam met haar man na Frankryk gereis om die toernooi by te woon. Koepka het verskoning gevra ná die voorval. Reemande eis skadevergoeding omdat sy meen die organiseerders moes vir beter veiligheidsmaatreëls gesorg het.

Kalmte het teruggekeer na Westbury in Johannesburg, nadat die Minister van Polisie, Bheki Cele gister met inwoners vergader het. Die gemeenskap het verlede week met protesoptrede teen bendegeweld en dwelmverwante misdade begin. Daar is volgens verslag vanoggend geen teken van polisievoertuie in Westbury nie. Die strate is steeds vol rommel. Cele het gister beloof dat ‘n taktiese reaksiemag ontplooi sou word. Die gemeenskap sê hulle sal aanhou betoog totdat inwoners wat tydens die betogings in hegtenis geneem is, vrygelaat is. Agt mense is nog in aanhouding en wil vir borgtog aansoek doen. Gemeenskapsleiers het intussen gisteraand ‘n geslote vergadering in Eldoradopark gehou om planne te maak oor hoe om misdaad te bekamp.

Burgerlike organisasies wat bande met die United Front in die Wes-Kaap het, hou vandag ‘n optog na die parlement om te betoog teen die hoë misdaadsyfer in die provinsie. Die optog is ook die amptelike bekendstelling van die United Front wat deur verskeie gemeenskappe gestig is op misdaad op die Kaapse Vlakte in die kollig te plaas. Die voorsitter van Cosatu in die Wes-Kaap, Matlatsi Tsubane sê hulle gaan ‘n griefskrif met eise aan die nasionale en provinsiale regerings asook die sakesektor oorhandig.

Die Minister van Finansies, Nhlanhla Nene, sal na verwagting besonderhede verskaf oor sy afdanking deur oudpresident Jacob Zuma wanneer hy vandag voor die Zondo-kommissie van Ondersoek na Staatskaping getuig. Nene is in Desember 2015 – na slegs 18 maande in sy termyn – afgedank. Dit het gelei tot ‘n vlaag betogings, optogte en versoeke dat Zuma moet bedank. Daar is bespiegel dat Nene se afdanking ‘n regstreekse gevolg was van die Gupta’s se invloed op die aanstelling en afdanking van ministers. Die sitting begin om 10-uur.

Die 45-jarige man wat aangekla word van die moord op ‘n vrou en haar twee dogters in Phoenix, noord van Durban, verskyn vandag in die hof. Colin Pillay word daarvan verdink dat hy Janelle Govindsamy en haar dogters, Rackelle en Denisha, verlede maand in hul woonstel vermoor het. Pillay se eerste hofverskyning is uitgestel omdat hy ‘n paniekaanval gekry het. Landdros Irfan Khalil het die media verbied om foto’s of videomateriaal van Pillay te publiseer, omdat daar vir sy lewe gevrees word. Hy word by die Westville-gevangenis aangehou, nadat hy vroeër beweer het hy is deur die polisie in Phoenix aangerand.

Amptenare in Indonesië sê hulle het nou by al vier dele van die eiland Sulawesi uitgekom wat erg onder die aardbewing en tsoenami deurgeloop het. Die dodetal het gister op duisend-347 gestaan. Die VN sê sowat 200-duisend oorlewendes het dringend hulp nodig. Die Internasionale Federasie van die Rooikruis en die Rooi Halfmaanverenigings sê die omstandighede is bitter moeilik en dit neem tot 90 minute om beseerdes na ambulanse te neem want reddingsspanne moet deur diep modder beweeg.

Duitsland gaan immigrasiewette verslap om voorsiening te maak vir buitelandse werksoekers. Migrante sonder verblyfspermitte, wat wag om te hoor wat die uitslag van hul asielaansoeke is, sal in aanmerking kom vir poste. Indien hulle werk kry en kan bewys dat hulle inskakel by die Duitse gemeenskap, sal hulle in dié land kan aanbly. Aansoeke vir werk in metallurgie en inligtingstegnologie sal van buite die Europese Unie aanvaar word. Diegene wat vir dié poste wil aansoek doen, sal vir ses maande in Duitsland toegelaat word terwyl hulle werk soek.

Die Franse sanger Charles Aznavour, wat Maandag oorlede is, het in sy bad gesterf ná ‘n hartaanval. ‘n Nadoodse ondersoek het die oorsaak van die 94-jarige Aznavour se dood bevestig. Intussen stroom huldeblyke van regoor die wêreld in vir dié sanger, wat in sy loopbaan honderd en tagtig miljoen plate verkoop het. Aznavour het verlede week gesê hy wil sy laaste asem op die verhoog uitblaas. Hy sou binne die volgende weke konserte in België en Frankryk gehou het.

 

Weer

Temperature vir vandag vir die hoofsentra in die land soos verskaf deur die Suid-Afrikaanse Weerburo

Warmbad – Gedeeltelik bewolk en baie warm

Min 10  Max 34

Nelspruit – Bewolk en koel

Min  10 Max 19

Pretoria –  Gedeeltelik bewolk

Min 6   Max 30

Johannesburg – Gedeeltelik bewolk

Min 5 Max 27

Vereeniging – Gedeeltelik bewolk maar ‘n aangename dag

Min 5 Max 25

Rustenburg – mooiweer tot warm

Min  12  Max  27

Bloemfontein – Effens bewolk, koel en winderig 

Min 1   Max  19

Kimberley – Sonnig en effens winderig

Min  5  Max 22

Durban –  bewolk met reën in die middag

Min  14  Max 17

Oos-London – Bewolk en koud

Min  10  Max 17

Upington –       ‘n Sonnige, aangename dag met ligte wind

Min  9  Max 26

Kaapstad – Sonnig en aangenaam

Min  10   Max 20

Port Elizabeth – Gedeeltelik bewolk met reën in die middag

Min  10  Max 19

Sutherland – Gedeeltelik bewolk en koud

Min  1  Max 15


 

 

Leave a Reply