Potgooi-Nuus en Weer 9:30 10 OKTOBER 2018 – WOENSDAG
Aangebied deur Yolanda Weeksdae om 9:30(CAT)
Klik HIER om weer te luister
https://archive.org/details/yol2018-10-10.092900
Kennisgewing
- Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
- Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berigskrywer.
- Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda
Die programme word aangebied in samewerking tussen Netradiosa, FM Stereo, FM Live Gospel Active & Radio Connect South Africa
Hooftrekke
*Die minister van Vervoer, Blade Nzimande, het die voortslepende brandstigting op treine van Metrorail in Kaapstad veroordeel. Nzimande het dié opmerking in Kaapstad gemaak by die lokaal waar Prasa voor die parlement se komitee oor Vervoer verskyn het. Hy sê brande op treine bly ‘n kommerwekkende saak en dit wil voorkom of dit voorafbepland is. Hy sê die brande moet deeglik ondersoek word en die skuldiges moet aan die man gebring word. Treindienste in Kaapstad is vanoggend weer sowat ‘n uur agter skedule. Dit volg nadat ses treinwaens op twee treine gister in die jongste voorval by die Kaapstad-stasie aan die brand was. ‘n Man is in verband met die jongste brand in hegtenis geneem. Twee weke gelede is drie treine aan die brand gesteek by drie verskillende stasies in die Wes-Kaap. Sommige amptenare, insluitend die Wes-Kaapse Minister van Ekonomiese Geleenthede, Alan Winde, waarsku dat die treinstelsel in duie kan stort indien daar nie dringend opgetree word nie. Meer as 630-miljoen rand se verliese is die afgelope drie en ‘n half jaar weens treinbrande gelei, waarvan meer as 70-persent in die Wes-Kaap is.
* Die polisie soek na die vriend van die ma van die twee kinders wie se ontbinde liggame in ‘n vlak graf agter die Slovoville-begraafplaas in die weste van Johannesburg gevind is. Die seun en meisie van onderskeidelik elf en tien jaar oud is verlede week deur ‘n verbyganger gevind. Die kinders se familie het intussen hul liggame uitgeken. Die polisie sê die kinders is laas in die teenwoordigheid van die ma se vriend gesien.
* Twee mense is by Tierpoort op die N1 buite Bloemfontein in hegtenis geneem vir die besit van perlemoen. ‘n Polisiewoordvoerder, Mahlomola Kareli, sê die K9-eenheid het tydens ‘n roetinepatrollie op die N1 ‘n verdagte minibus-taxi opgemerk. Hulle het die taxi tot by ‘n vulstasie gevolg waar die verdagtes te voet probeer vlug het. Die polisie het tagtig sakke perlemoen in die voertuig gevind. Die verdagtes is later aangekeer.
*Die voormalige minister van Openbare Ondernemings, Barbara Hogan, getuig vandag voor die kommissie van ondersoek na staatskaping oor die gebeure voordat sy in 2010 uit haar portefeulje herroep is. Die kommissie het reeds verdoemende getuienis van voormalige ministers en parlementslede soos Vytjie Mentor aangehoor. Die getuienis het tot dusver gehandel oor hoe die Gupta-broers die daaglikse bestuur van die regering onder oudpresident Jacob Zuma probeer beïnvloed het. Hogan was minister van Mei 2009 tot Oktober 2010 toe Zuma haar met Malusi Gigaba vervang het. Die huidige minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, sal na verwagting Vrydag voor die kommissie getuig.
*Die EFF sê die party voel baie tevrede met President Cyril Ramaphosa se besluit om ‘n nuwe minister van Finansies aan te stel. Die EFF was uit die staanspoor uitgesproke oor die gewese minister, Nhlanhla Nene, se aanstelling, maar veral ook oor sy erkenning verlede week dat hy met die Guptas vergader het. Nene het na sy getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping die nasie om verskoning gevra vir sy optrede. Die adjunkpresident van die EFF, Floyd Shivambu, sê die party verwag dat die pasaangestelde minister, Tito Mboweni, beter sal vaar as Nene. Hy sê die EFF ondersteun veral Mboweni se uitsprake oor die skepping van ‘n regeringsbank en ‘n soewereine welstandsfonds. Verskeie ander politieke partye het ook Mboweni se aanstelling verwelkom.
*Ekonome sê intussen graderingsagentskappe sal waarskynlik positief reageer op Mboweni se aanstelling. Ekonome sê Mboweni het ‘n bewese rekord, veral as president van die Reserwebank. Die graderingsagentskap Moody’s sal na verwagting Vrydag sy hersiening bekendmaak. ‘n Ekonoom van Nedbank, Isaac Mashego, sê hy glo Mboweni se aanstelling en die mediumtermynbegroting op 24 Oktober sal ‘n positiewe invloed op die agenskappe se latere gradering hê.
*Die vakbond, Nehawu, begin vandag met ‘n landwye staking by die Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid, of SASSA. Ontevrede werknemers van SASSA sê hulle is nie vertroud met die nuwe biometriese stelsel nie, en dat dit bedrog tot gevolg kan hê. Die hoofsekretaris van Nehawu, Zola Saphetha, sê SASSA-werkers word onregverdig behandel, en beweer sommiges is al afgedank omdat hulle nie die stelsel korrek kan gebruik nie. Sapheta sê die staking is nodig om bedrog in die toekoms te voorkom.
*Een persoon is dood in vanoggend se botsing tussen twee vragmotors op die R21-suid naby die Pomona-afrit in Ekhuruleni. Dit is in die stadium nog onduidelik hoe die ongeluk gebeur het. ‘n Klag van strafbare manslag is by die Kempton Park polisiestasie gelê, nadat een van die vragmotorbestuurders op die toneel dood verklaar is. Die botsing was omstreeks drie-uur vanoggend. Groot verkeersontwrigtings kom nog voor terwyl opruimingswerk aan die gang is.
*Die Britse Minister van Buitelandse Sake, Jeremy Hunt het aan sy Saoedi-Arabiese eweknie, Abel al-Jubeir gesê dat Brittanje dringende antwoorde verwag oor die verdwyning van die joernalis, Jamal Khashoggi. Hunt het tydens ‘n telefoonoproep vir Al-Jubeir gewaarsku dat vriendskap afhang van gedeelde waardes. Khashoggi is laas gesien toe hy verlede week Dinsdag Saoedi-Arabië se konsulaat in Istanboel in Turkye besoek het. Turkse owerhede glo hy is moontlik in die konsulaat vermoor en het onderneem om die konsulaat te deursoek. Saoedi-Arabië ontken die bewerings en sê hulle is bereid om saam te werk met die ondersoek. Khashoggi het die afgelope tyd in Amerika gewoon en vir die Washington Post geskryf, en het gereeld Saoedi-Arabië se regeringsbeleid gekritiseer.
Die weer
Temperature vir vandag vir die hoofsentra in die land soos verskaf deur die Suid-Afrikaanse Weerburo
Warmbad – Grotendeels ‘n sonnige en baie warm dag
Min 16 Max 32
Nelspruit – Gedeeltelik bewolk en warm
Min 14 Max 29
Pretoria – Gedeeltelik bewolk en warm
Min 16 Max 30
Johannesburg – Gedeeltelik bewolk en warm
Min 15 Max 29
Vereeniging – Bewolk maar baie warm
Min 14 Max 32
Rustenburg – Gedeeltelik bewolk en baie warm
Min 17 Max 34
Bloemfontein – Gedeeltelik bewolk en baie warm
Min 12 Max 32
Kimberley – Effens bewolk en baie warm
Min 18 Max 34
Durban – Sonnig en warm
Min 20 Max 28
Oos-London – Effens bewolk en warm
Min 18 Max 26
Upington – Sonnig en buitengewoon warm
Min 19 Max 37
Kaapstad – Sonnig maar bewolk met tye
Min 15 Max 21
Port Elizabeth – Gedeeltelik bewolk en matig
Min 16 Max 22
Sutherland – Bewolk en warm
Min 8 Max 28