You are currently viewing Potgooi – Nuus &  Weer 9:30  2 November 2018

Potgooi – Nuus & Weer 9:30 2 November 2018

Potgooi – Nuus &  Weer 9:30  2 November 2018

Weeksdae Aangebied deur Yolanda om 9:30(CAT)

Klik HIER om weer te luister

https://archive.org/details/PotgooiNuusEnWeer2November2018Yol20181102.092939

Kennisgewing

  1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.
  2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berig skrywer.
  3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda

Die programme word aangebied in samewerking tussen Netradiosa & FM Stereo

Nuus Hooftrekke

  • President Cyril Ramaphosa het sy toespraak op die leierskapsberaad in Johannesburg gewy aan uitsluitings van sekere groepe in Suid-Afrika se verlede en die beëindiging van korrupsie in die land. Talle hoogwaardigheidsbekleërs, onder wie die voormalige Britse eerste minister, David Cameron, oudpresident Bill Clinton van Amerka en sy vrou, Hillary, het die geleentheid bygewoon. Ramaphosa sê Suid-Afrika se ekonomie kán groei indien die land kan ophou om swart mense, maar ook veral vroue en die jeug, uit te sluit.
  • Die tesouriergeneraal van die ANC, Paul Mashatile sê die party se top ses sal Maandag die kwessies rakende die minister van Binnelandse Sake, Malusi Gigaba, bespreek. Gigaba moes vandeesweek ‘n aantal uitdagings hanteer. Dit wissel van ‘n aanbeveling deur die Openbare Beskermer dat die President teen hom moet optree, tot ‘n hofbeslissing dat hy onder eed gelieg het. Hy is ook onder druk nadat ‘n private seksvideo van hom versprei is. Mashatile sê die party moet Mkhwebane se verslag nog behoorlik bestudeer en met Gigaba vergader voordat hulle ‘n finale besluit kan neem.
  • President Cyril Ramaphosa het die geskorste kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Tom Moyane, afgedank. Die presidensie sê Ramaphosa het die voorsitter van die kommissie van ondersoek na die SAID, oudregter Robert Nugent, se aanbevelings aanvaar dat Moyane afgedank word. Moyane is in Maart geskors weens ‘n reeks aantygings oor sy bestuur van die instelling. Nugent het verlede maand in sy tussentydse verslag aanbeveel dat Moyane afgedank, en ‘n voltydse kommissaris aangewys word. Mark Kingon neem tans as kommissaris waar.
  • Die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, het die kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Tom Moyane, se afdanking verwelkom. Die presidensie sê President Cyril Ramaphosa het die aanbevelings aanvaar wat die kommissie van ondersoek na die S.A.I.D onder voorsitterskap van oudregter Robert Nugent in sy tussentydse verslag gemaak het. Moyane is in Maart geskors weens ‘n reeks omstrede sake waarby hy betrek is. Gordhan is op die oomblik in New York waar hy ‘n beleggingskonferensie bywoon.
  • Intussen gaan die ANC Maandag besin oor die lot van die beleerde minister van binnelandse sake, Malusi Gigaba. Die tesourier-generaal van die ANC, Paul Mashatile sê die top ses leiers sal die Openbare Beskermer se verslag nog behoorlik bestudeer en met Gigaba vergader voordat ‘n finale besluit geneem kan word. Gigaba moes vandeesweek ‘n aantal uitdagings hanteer. Dit wissel van ‘n aanbeveling deur die Openbare Beskermer dat die President teen hom moet optree, tot ‘n hofbeslissing dat hy onder eed gelieg het. Hy is ook onder druk nadat ‘n private seksvideo van hom versprei is.In nog ‘n ontwikkeling rakende Gigaba het die konsitusionele hof gister sy aansoek om verlof tot appèl verwerp teen die hofbeslissing dat hy onder eed gejok het oor Fireblade Aviation. Die aansoek is met koste van die hand gewys.
  • Die minister van Kommunikasie, Nomvulo Mokonyane sê ‘n nuwe bestuursmodel vir die SAUK is nodig. Sy sê maniere waarop die uitsaaier befonds word, moet ook hersien word. Mokonyane het gister vrae in die nasionale raad van provinsies beantwoord oor die benarde finansiële situasie waarin die SAUK hom bevind. Sy sê die regering is van mening dat die SAUK se omkeerstrategie nie slegs uit afleggings kan bestaan nie.
  • ‘n Man is in ‘n kritieke toestand in ‘n Johannesburgse hospitaal nadat hy tydens ‘n hewige donderstorm in Roodepoort deur weerlig getref is. Die voorval het op die hoek van Albertina Sisulu- en Hendrik Potgieterweg plaasgevind waar die man vermoedelik onder ‘n boom geskuil het. Volgens nooddienspersoneel het die man geen teken van lewe getoon toe hulle kom vind nie. Paramedici het noodbehandeling toegepas waarna hy weer begin asemhaal het.
  • President Cyril Ramaphosa het sy toespraak op die leierskapsberaad in Johannesburg gewy aan uitsluitings van sekere groepe in Suid-Afrika se verlede en die beëindiging van korrupsie in die land. Talle hoogwaardigheidsbekleërs, onder wie die voormalige Britse eerste minister, David Cameron, oudpresident Bill Clinton van Amerka en sy vrou, Hillary, het die geleentheid bygewoon. Ramaphosa sê Suid-Afrika se ekonomie kán groei indien die land kan ophou om swart mense, maar ook veral vroue en die jeug, uit te sluit.
  • Vroeër het die president gesê die regering oorweeg dit om ‘n nasionale register vir beskermingsbevele op te stel om slagoffers van geweld op grond van geslag te beskerm. Ramaphosa het sowat tweeduisend afgevaardigdes op die jaarlikse presidensiële beraad oor Gelagsgeweld in Pretoria toegespreek. Die president sê baie slagoffers van dié tipe geweld moet gereeld na ander dele van die land vlug waar dit moeilik is om kopieë van dokumente te bekom.
  • Die presidensiële beraad oor geslagsgeweld word vandag in Pretoria voortgesit. Verskeie kommissies sal insette lewer oor aanbevelings om geweld teen vroue en kinders te beëindig. Aktiviste en slagoffers gebruik die geleentheid om die regering te oortuig om sekere wetgewing te hersien. Die president van die Suid-Gautengse Appèlhof, regter Mandisa Maya, het dit betreur dat spesiale howe wat seksuele misdade aanhoor, nie meer in bedryf is nie. Sy sê dit lei daartoe dat die strafregstelsel in die land verder oorbelas word.
  • Die Nasionale Vervolgingsgesag sê hulle is optimisties dat die vermeende Dros-verkragter in die Weskoppies psigiatriese hospitaal opgeneem sal word voordat die saak aan die einde van die maand hervat word. Die hof het gister ingestem om die 22-jarige Nichollas Ninow vir sielkindige waarneming te verwys. Hy staan tereg op die verkragting van ‘n sewe-jarige meise by ‘n restourant in Silverton in Pretoria. Die Staat het ingestem dat Ninow vir waarneming verwys word, nadat sy regspan aangevoer het dat hul kliënt ‘n bipolêre steurnis het en ook vroeër dwelmmiddels gebruik het. Die staat staan egter die verdediging se aansoek teen dat bykomende privaat kundiges Ninow moet ondersoek. Die NVG sê die verslag is nog nie opgestel nie en daar is dus geen rede om dit teen te staan nie.
  • Die departement van Onderwys in Gauteng sê die sesduisend-agthonderd leerlinge wat steeds nie in skole geplaas is nie, sal na skole in ander gebiede moet gaan. Die departement sê uit die 282-duisend Graad Een en Graag Agt aansoeke, is 248-duisend in skole geplaas. Twee-en-twintigduisend aansoeke is uit die stelsel verwyder omdat die nodige dokumente nie ingedien is nie. ‘n Verdere vyfduisend aansoekers het nie gereageer op die plasings nie. Die LUR, Panyaza Lesufi sê die bykans seweduisend leerlinge wat nie geplaas is nie, se skole van keuse was reeds vol en hulle kon nie plek kry nie. Dié leerlinge moet nou elders geplaas word. Lesufi sê probleme in die verband moet teen die 15de van die maand opgelos wees.
  • Die ANC en Cosatu in Gauteng gaan vandag oor tot hernieude protesoptrede teen die provinsie se omstrede e-tolstelsel. Die betogers gaan ‘n optog na die Uniegebou in Pretoria hou om ‘n griefskrif te oorhandig waarin hulle die skrapping van die stelsel eis. Die besluit om opnuut te betoog is geneem nadat die minister van Finansies, Tito Mboweni, verlede week in die parlement gesê het die e-tolstelsel sal nie geskrap word nie. Die ANC het intussen sy steun toegesê aan sy Gautengse leierskap dat daar oor e-tol besin word. Die party se tesourier-generaal, Paul Mashatile, sê die stelsel is onhaalbaar en onbekostigbaar. Die premier van Gauteng, David Makhura, is ook ten gunste van die afskaffing van die stelsel en sê daar is nie ‘n plek in Gauteng vir e-tol nie.
  • President Cyril Ramaphosa en die Minister van Polisie sal vanoggend amptelik ‘n teenbende-eenheid in Hanover Park op die Kaapse Vlakte bekend stel. Die gebied is een van talle wat onder bendegeweld gebuk gaan. Die eenheid, wat uit 95 lede bestaan, is reeds vanaf vroeg verlede maand bedrywig. Die lede sal in bendegeteisterde gebiede soos Nyanga, Bonteheuwel en Bishop Lavis ontplooi word.
  • Die Kaapse Kamer van Koophandel sê intussen misdadige bendes moet dringend aandag kry omdat dit Kaapstad ‘n slegte naam gee. Die instansie het gereageer op die sluipmoord op die advokaat Pete Mihalik wat in Groenpunt doodgeskiet is. Daar word bespiegel dat die moord op die 50-jarige Mihalik verband hou met die Kaapstadse onderwêreld. Die president van die Kamer, Janine Myburgh, sê nuwe idees en planne is nodig om met bendes af te reken.
  • ‘n Aansoek vir ‘n interdik teen die begrafnis van die ontslape hip-hop-kunstenaar, Jabulani Tsambo, – oftewel *HHP – word vandag in die Johannesburgse hooggeregshof aangehoor. Tsambo sou môre in Mahikeng begrawe word, maar sy lewensmaat, Lerato Sengadi, probeer die familie verhoed om met die begrafnisreëlings voort te gaan. Tsambo se familie aanvaar Sengadi nie as sy vrou nie en wil hom in sy tuisdorp begrawe. Sengadi voer aan dat hulle wettig getroud was en dat dit sy wens was om in Johannesburg begrawe te word waar Sengadi en sy dertienjarige seun woon.
  • Die nuutverkose Brasiliaanse president, Jair Bolsonaro, sê hy gaan sy land se ambassade in Israel van Tel Aviv na Jerusalem verskuif. Die Palestyne en talle ander lande erken nie Jerusalem as hoofstad van Israel nie. Bolsonaro het tydens sy verkiesingsveldtog Israel geloof omdat hy sy reg verdedig het om sy eie hoofstad te kies. Hy volg nou die voorbeeld van Amerika en Guatelmala en verskuif die Brasiliaanse ambassade uit Tel Aviv. Hy het ook op twitter gesê Palestina is nie ‘n land nie en daarom het hulle nie die reg om ‘n ambassade te hê nie.
  • Die Verenigde Nasies in Jemen het gewaarsku dat bykans twee miljoen kinders jonger as vyf jaar deur akute wanvoeding in die gesig gestaar word weens die voortslepende burgeroorlog. Die VN se agentskap vir kindersake, Unicef, sê indien hulle die kinders se lewens wil red, moet die konflik so gou as moontlik beëindig word. Amerika het ‘n versoek gerig vir ‘n skietstilstand en vredesamesprekings tussen die Saoedi-geleide koalisie wat die regering van Jemen ondersteun en die Houthi-rebelle.
  • President Emmerson Mnangagwa van Zimbabwe het bekendgemaak dat ‘n Australiese maatskappy olie in die noorde Zimbabwe ontdek het. Invictus Energy het die olie by Muzarabani raakgeboor – sowat 300 kilometer noord van Harare. Die aankondiging kom te midde van talle uitdagings wat die Zimbabwiese ekonomie ondervind. Suid-Afrika en die ander lede van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap spartel ook onder stygende brandstofpryse. Mnangagwa sê die ontginning sal waarskynlik eers teen 2020 kan begin.

 

Die Weer

Temperature vir vandag vir die hoof Sentra in die land soos verskaf deur die Suid- Afrikaanse Weerburo

Warmbad – Gedeeltelik bewolk en matig met verspreide donderbuie

Min 13  Max 24

Nelspruit –  Gedeeltelik bewolk en koel met reen en donderbuie

Min 10  Max 19

Pretoria – Gedeeltelik bewolk en matig, met reen en donderbuie

Min 11  Max 22

Johannesburg – Gedeeltelik bewolk en matig met reën en donderbuie in die namiddag

Min 10 Max 21

Vereeniging – Gedeeltelik bewolk en matig

Min 11  Max 22

Rustenburg – Gedeeltelik bewolk en warm

Min 13  Max 28

Bloemfontein – Sonnig en matig tot warm

Min 9  Max 25

Kimberley – Sonnig en warm

Min 12  Max 27

Durban –  Bewolk en matig met reën en donderbuie

Min 15  Max 20

Oos-London – Bewolk en koel

Min 13  Max 19

Upington –       Gedeeltelik bewolk en baie warm

Min 15  Max 31

Kaapstad – Gedeeltelik bewolk en matig tot warm

Min 14  Max 25

Port Elizabeth – Gedeeltelik bewolk en koel

Min  14  Max 19

En laastens

Sutherland – Gedeeltelik bewolk en matig

Min 7  Max 23


 

Leave a Reply