You are currently viewing Potgooi – Nuus &  Weer 9:30  5 November 2018

Potgooi – Nuus & Weer 9:30 5 November 2018

Potgooi – Nuus & Weer 9:30 5 November 2018

Weeksdae Aangebied deur Yolanda om 9:30(CAT)

Klik HIER om weer te luister

https://archive.org/details/PotgooiNuusEnWeer5November2018Yol20181105.092835

Kennisgewing

1. Die Radio’s raak nie by politieke of godsdienstige argumente betrokke nie.

2. Artikels en materiaal gebruik in programme is nie noodwendig die siening van die betrokke omroeper of die radiostasie nie maar die van die artikel- of berig skrywer.

3. Die Radio’s gee berigte en nuus deur soos ontvang en is neutraal van enige politieke groep of agenda

Die Nuus word aangebied in samewerking tussen Netradiosa & FM stereo & FM Live Gospel Active & Radio CSA

 

HOOFTREKKE

  • n Voorval by ‘n huis buite Tzaneen in Limpopo het tragies geëindig toe ‘n 18 maande oue baba dood is nadat hy vir meer as 24 uur in ‘n boorgat was. Die baba het Saterdag in die boorgat geval. Die burgemeester van die Mopani-distriksmunisipaliteit, Nkakareng Rakgoale, sê ‘n soek-en reddingspan van die plaaslike rampbestuur en ander departemente het onverpoosd gewerk om die baba te probeer red. Die polisie ondersoek die voorval.
  • Die beleërde Minister van Binnelandse Sake, Malusi Gigaba, sê dokumente wat die Oppenheimerfamilie gebruik het as permit om met die projek vir ‘n privaat terminaal by die OR Internasionale Tambo lughawe voort te gaan, is vervals. Gigaba sê diegene wat by die proses betrokke was, behoort verantwoording te doen. Hy het in ‘n onderhoud met die SAUK bewerings verwerp dat hy die bou van die privaatterminaal goedgekeur het. Die Konstitusionele Hof en die Openbare Beskermer het bevind dat Gigaba die Gedragskode vir Uitvoerende Beamptes en die Grondwet geskend het deur onder eed in die Firebladesaak in die hof te lieg…..
  • Die ANC sekretaris-generaal, Ace Magashule, sê hoewel hulle op die spesiale vergadering van die Nasionale Uitvoerende Komitee gepraat het oor lede wat by die VBS-skandaal betrek word, is geen besluit daaroor geneem nie. Magashule het in QwaQwa in die Vrystaat gepraat waar die party besig is met ‘n Thuma Minaveldtog. Magashule sê die NUK het gefokus op die verstewiging van sy verhouding met sy alliansievennote en gemeenskappe. Hy sê die party wil sy strukture herbou voor aanstaande jaar se algemene verkiesing.
  • Brandbestryders op die Tuinroete in die Suid-Kaap bestry nog brande by plekke soos Jonkersberg, Noll en Kransbos. Die afgelope naweek het brande op plekke opgevlam en meer as 400 mense moes na veiligheid geneem word. Sowat 600 brandbestryders word deur nege vliegtuie bygestaan. Agt mense is tot dusver in die brande dood, verskeie strukture het afgebrand en meer as 80-duisend hektaar veld het afgebrand. Opruimingsoperasies gaan voort. Reën word vir die streek voorspel wat brandbestryding sal bespoedig.
  • Die Knysna-munisipaliteit in die Suid-Kaap het die publiek gewaarsku oor vermeende bedrieërs wat hulle voordoen as munisipale amptenare. Die individue vra mense in die Rheenendal-omgewing na bewering vir geldelike bydraes om diegene te help wat deur die verwoestende veldbrande op die Tuinroete geraak word. Die burgemeester van Knysna, Mark Willemse, sê die publiek behoort enige verdagte bedrywighede so gou as moontlik aan te meld.
  • Burgers van Iran het landwye betogings gehou teen Amerikaanse sanksies wat vandag in werking tree. Die finansiële en oliesektore sal veral geraak word. Die betogings het saamgeval met die 39ste herdenking van die besetting van die Amerikaanse ambassade In Teheran. Dit het gelei tot vier dekades van vyandigheid tussen die twee lande. Die Amerikaanse president het in Mei vanjaar afgesien van die kernooreenkoms met Iran. Donald Trump glo dat sanksies druk op Iran sal plaas om na die onderhandelingstafel terug te keer. Iranse leiers het onderneem dat hulle die sanksies sal weerstaan en het Amerika se optrede as ‘n ekonomiese oorlog bestempel.
  • Die Noord-Kaapse polisie sê hulle het oor die naweek op vermeende gesteelde goedere van meer as drie-komma-vyf miljoen rand beslag gelê tydens Operasie Vat Alles in die provinsie. Die polisie sê die operasie fokus op die herwinning van gesteelde of gekaapte voertuie, onwettige vuurwapens en ammunisie, gesteelde vee en wild. Drie mans is ook op drie dorpe aangekeer en hulle sal na verwagting in die hof verskyn.
  • Die polisie in KwaZulu-Natal ondersoek gevalle waar gevangenes uit wettige aanhouding ontsnap en in ‘n ander geval probeer ontsnap het uit die polisieselle by die Isipingo polisiestasie suid van Durban. Volgens berigte was van die polisielede op ‘n roetinebesoek aan die selle toe hulle deur die verdagtes oorrompel en met vuurwapens aangehou is. ‘n Verdagte is dood en nog vyf is gewond. Twee is nog op vrye voet. Die polisie sê nie een van hulle lede is beseer nie.
  • Die lewens van meer as 200 Italiaanse krygsgevangenes wat tydens die Tweede Wêreldoorlog in die Zonderwatergevangenis buite Pretoria aangehou is, is gister weer herdenk. Vriende, familielede en verteenwoordigers van die Italiaanse regering sowel as lede van die plaaslike gemeenskap het by die Italiaanse begraafplaas vergader waar die krygsgevangenes se oorskot begrawe is. Dit is vanjaar die 75 ste herdenking van die monument op die plek waar die Italianers begrawe is. Van die gevangenes is in aanhouding dood terwyl ander weens verskeie siektes of ongelukke dood is. Die oudste oorlewende krygsgevangene, Paolo Ruccini, is nou 99 jaar oud.
  • Die Zoeloe-koning Goodwill Zwelithini sê die aanbied van die Diwalifeesvieringe by sy paleis op KwaNongoma in die noorde van KwaZulu-Natal moet gesien word as ‘n poging om eenheid en verdraagsaamheid onder die onderskeie rasse te bevorder. Die monarg het die Indiese godsdienstige feesvieringe by een van sy paleise aangebied wat deur meer as 200 Indiese gaste bygewoon is. Diwali is ‘n heilige geleentheid wat wêreldwyd deur Hindoe’s en Tamils bygewoon word. Die koning het die nasie gevra om te verenig en kulture van verskillende rassegroepe te aanvaar.
  • Die Minister van Binnelandse Sake, Malusi Gigaba, sê hy sal slegs as minister bedank indien president Cyril Ramaphosa hom vra om dit te doen. Dit volg na verskeie beroepe deur politieke partye en drukgroepe dat Gigaba in die pad gesteek moet word. Die Openbare Beskermer het bevind dat Gigaba die gedragskode vir uitvoerende amptenare oortree het toe hy in die Fireblade lugvaart-saak onder eed gelieg het. ‘n Seksueel eksplisiete video van Gigaba wat aan die lig gekom het, het ook skade aan sy beeld berokken. Gigaba het in ‘n onderhoud met die SAUK gesê indien die ANC se uitvoerende komitee of die president hom vra om te bedank sal hy dit doen.
  • Die verhoor van ses mans wat daarvan verdink word dat hulle verantwoordelik was vir die aanval op die Ncgobo polisiestasie in Januarie vanjaar begin vandag in die hooggeregshof in Mthatha in die Oos-Kaap. Die mans het na bewering die polisiestasie van vuurwapens beroof en vyf polisiebeamptes en ‘n soldaat doodgeskiet. Drie van die polisielede is by die polisiestasie vermoor, terwyl nog twee in hulle voertuig geskiet is toe die bende die voertuig gekaap het. Streng veiligheidsmaatreëls sal by die hof geld.
  • Die president van die polisie-en-gevangenisdiensvakbond, POPCRU, Zizamele Cebekhulu, sê ‘n meer robuuste benadering is nodig om die veiligheidsgroepering in die land reg te ruk. Cebekhulu het lede van die vakbond se Sentrale Uitvoerende Komitee in Irene in Pretoria toegespreek. Die vergadering het bestek geneem oor die vordering wat onder die huidige leierskap gemaak is en ondersoek ingestel na maniere om werkers te bemagtig. Hy sê dit is belangrik dat veiligheidspersoneel in ‘n meer gemaklike omgewing moet wees om ‘n misdaadvrye Suid-Afrika ‘n werklikheid te maak.
  • Minstens 12 mense is dood in oorstromings op die eiland Sicilië in die suide van Italië. Nege van die slagoffers is van twee families wat deur vloedwater vasgekeer was. Die families was saam in ‘n huis naby Palermo toe ‘n nabygeleë rivier sy walle oorstroom het. Op ‘n ander plek op die eiland is nog drie mense dood toe hulle motors in die vloedwater vasgekeer is.
  • Die burgerregte groep, Afriforum, sê hy gaan ‘n lasbrief wat verlede week bekom is om beslag te lê op die EFF-leier se bates aan die balju van die hof oorhandig. Afriforum het verlede week die beslagleggingsbevel in die Hooggeregshof in Pretoria bekom om Malema te dwing om hul regskoste te betaal. Dit volg op suksesvolle regsoptrede van Afriforum teen die EFF en sy leier om op te hou om mense aan te hits om grond te beset. Die hof het beslis dat Malema en die EFF regskoste van 330-duisend rand moet betaal. Die burgerregtegroep sê hulle is nooit betaal nie en is vasbeslote om hul geld te kry deur op die EFF en Malema se bates beslag te lê.
  • Nege vermeende transitorowers van Mahikeng in Noordwes doen vandag in die Molopo landdroshof aansoek om borgaansoek. Sylvester Mphephu en sy agt medebeskuldigdes staan tereg op aanklagte van onder meer sameswering tot moord, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, roof met verswarende omstandighede en die diefstal van ‘n motor. ‘n Bekende sakeman is een van die beskuldigdes.
  • Vicky Momberg, wat tronk toe gestuur is omdat sy rassistiese uitlatings teenoor polisiebeamptes gemaak het, appeleer vandag teen haar vonnis. Momberg is in Februarie 2016 gesien in ‘n video terwyl sy rassistiese uitlatings gemaak het teenoor polisielede wat haar bygestaan het nadat grypdiewe op haar toegeslaan het. Sy het hulle herhaaldelik die K-woord toegesnou. Sy is in November verlede jaar skuldig bevind op vier aanklagte van crimen injuria. Sy is tot drie jaar tronkstraf gevonnis waarvan een jaar opgeskort is. Sy is aanvanklik verlof tot appèl geweier, maar die Hooggeregshof het later toegelaat dat sy kan appelleer.
  • Twee verdagtes wat in hegtenis geneem is vir die moord op ‘n familie van Vlakfontein in die suide van Johannesburg, verskyn vandag vir die eerste keer in die Lenasia landdroshof. Sewe mense, drie vroue en vier kinders, is vermoor. Die slagoffers is gister in Pietermaritzburg begrawe. Een van die verdagtes is in Mpumalanga naby die Lebombo grenspos in hegtenis geneem. Hy was in die besit van bankkaarte wat aan twee van die slagoffers behoort het. Die tweede verdagte is in Dobsonvile in Soweto in hegtenis geneem.
  • Streng veilligheidsmaatreëls sal vandag by die hooggeregshof in Mthataha in die Oos-Kaap geld waar die verhoor van ses mans begin wat verdink word van die aanval op die Ncgobo polisiestasie in Januarie vanjaar. Die mans het na bewering die polisiestasie van vuurwapens beroof en vyf polisiebeamptes en ‘n soldaat doodgeskiet.

 

  • Die Demokrate en Republikeine sal vandag hulle laaste pogings aanwend onder kiesers in hul onderskeie veldtogte op die vooraand van die Amerikaanse middeltermynverkiesing. Dit word wyd beskou as ‘n referendum vir die Trump-presidensie. Trump het tot dusver die veldtog gebruik om te waarsku dat Amerika bedreig word deur duisende onwettige immigrante, wydverspreide misdaad en verlinkse Demokrate wat sosialisme bepleit. Die Demokrate hoop op hul beurt om minstens gedeeltelike beheer in die Kongres te herwin om Trump se agenda te fnuik. Volgens peilings is die Demokrate in ‘n beter posisie om die meerderheid in die Huis van Verteenwoordigers te behaal, maar sê daar is talle moontlikhede van onverwagse gebeure, wat Trump se presidensie tot dusver gekenmerk het.
  • Burgers van Iran het landwye betogings gehou teen Amerikaanse sanksies wat vandag in werking tree. Die finansiële en oliesektore sal veral geraak word. Die betogings het saamgeval met die 39 ste herdenking van die besetting van die Amerikaanse ambassade In Teheran. Dit het gelei tot vier dekades van vyandigheid tussen die twee lande. Die Amerikaanse president het in Mei vanjaar afgesien van die kernooreenkoms met Iran. Donald Trump glo dat sanksies druk op Iran sal plaas om na die onderhandelingstafel terug te keer. Iranse leiers het onderneem dat hulle die sanksies sal weerstaan en het Amerika se optrede as ‘n ekonomiese oorlog bestempel.
  • Laastens – SOKKER: Kaizer Chiefs speel later die maand weer teen Orlando Pirates in die tweede Soweto-derby van die seisoen. Dit volg nadat die Amakhosi Supersport United in Durban geklop en deurgedring het tot die halfeindronde van die Telkom Uitkloptoernooi. Baroka speel in die ander halfeindronde teen Bidvest Wits.

Weer

Temperature vir vandag vir die hoofsentra in die land soos verskaf deur die Suid-Afrikaanse Weerburo

Warmbad – Bewolk en baie warm

Min 16  Max 32

Nelspruit – Gedeeltelik bewolk en baie warm

Min 18  Max 32

Pretoria – Bewolk en baie warm

Min 16  Max 30

Johannesburg –  Gedeeltelik bewolk en warm met verspreide donderbuie

Min 14  Max 28

Vereeniging –  Bewolk en baie warm

Min 14  Max  30

Rustenburg – Bewolk en baie warm met verspreide donderbuie

Min 15   Max 32

Bloemfontein –  Gedeeltelik bewolk en warm

Min 6 Max 28

Kimberley –  Bewolk en warm

Min 6   Max 29

Durban – Gedeeltelik bewolk en warm

Min 17  Max 25

Oos-London – Gedeeltelik bewolk en matig met middagreën en donderbuie

Min 10  Max 22

Upington – Gedeeltelik bewolk en warm

Min 6 Max 27

Kaapstad – Bewolk en koud met donderbuie plek-plek

Min 11  Max 14

Port Elizabeth – Gedeeltelik bewolk en koel

Min 10  Max 18

En laastens

Sutherland – Bewolk en koud

Min 0  Max 12


 

Leave a Reply